Ek is self ʼn aanhanger van rugby, alhoewel ek nie maklik sal deurgaan as ʼn "fanatikus" nie. ʼn Interessante ding het gister gebeur wat my laat dink het om by die manne wat meer weet kers op te steek. Ek het onbepland op drie munte (ek dink dis wat dit is?) afgekom wat ooglopend met Dok Danie Craven verband blyk te hou. Ek beskryf dit hieronder in die hoop dat iemand dalk meer lig op die saak sal kan werp?
Munt 1:
Die munte is almal nogal dik (amper 3mm). Die deursnee is skrams oor die 28mm-merk. Die metaal is blinkerig maar het effe verdof soos outydse munte maar maak. Daar is geen riffels op die rante nie. Op een kant is ʼn afbeelding (borsbeeld) van Danie Craven en die naam "Danie Craven" is halfmaanvormig daaronder geskrywe. Aan die ander kant is daar die figuur van ʼn man met ʼn hond en rugbypale in die agtergrond, die woorde "Coetzenburg" is in ʼn halfmaan onder die man en sy hond geskrywe. Daar is geen datum op hierdie munt nie.
Munt 2:
Op die een kant van hierdie munt is ook die onmiskenbare borsbeeld van Dok Craven met "Danie Craven" in ʼn halfmaan daaronder. Op die ander kant is daar ʼn afbeelding van ʼn rugbyspeler wat van agter deur ʼn ander speler geduik word terwyl hy klaarblyklik besig is om ʼn drie te druk. Die datum onder die figure is gedateer 1933.
Munt 3:
Weereens Dok Craven op die voorkant (identies soos die ander munte) met die wêreldbekende naam halfmaan daaronder. Aan die agterkant is die afbeelding van ʼn speler wat sierlik deur die lug duik (bal in die hande - Habana-styl) met ʼn ander speler wat lyk asof hy vergeefs probeer keer. Die datum op hierdie munt is gedateer 1937.
Met dié dat die Bok-embleem nou in gevaar is, wonder ek maar net watter waarde ek aan die munte behoort te heg, indien enige? Laat weet maar as enigiemand weet wat dit is?
Groetnis.
Neels (Husky) Visser



Kommentaar
Ek is opsoek na die waarde van dok Danie Craven borsbeeld asb?