Ek wil die week afsluit deur oor een van my beste kinder-ervaringe en ‘n hunkering te skryf. Die naweek word Kinderfees gehou in die Morawiese Kerke regdeur die land.
Voor aan die punt is Elim en Genadendal. En dan gaan dit so van kerk en gemeente tot einde Oktober. Die fees is ter herinnering aan Susanna Kuhnel en haar vriende se toewyding by die Herhnut-gemeente, Duitsland, van die Kerk eeue gelde.
Kinderfees, Oesdankfees, die Pase en Kersfees is van die groot Christelike feeste wat die Morawiese Kerk jaarliks gedenk.
Oud-president Nelson Mandela het in Oktober 1995 die volgende gesê: “Een van Genadendal se tradisies wat vir my baie besonder is, is die jaarlikse Kinderfees; wanneer al julle kinders die berg opklim om wilde blomme te pluk waarmee julle dan die kerk versier. Ek dink die simboliek van hierdie eeue oue tradisie is baie belangrik in die nuwe Suid-Afrika. Ons moet instellings soos die kerk en waardes van respek vir alle mense, wat oor eeue heen in ons gelowe oorgedra is, vir die toekoms behou.”
Dit som Kinderfees op – die samesyn en respek vir mekaar. Die dag begin vroeg met 'n kerkdiens. Dan is dit huis toe vir bolletjies en koeldrank. Na ete is daar ‘n spesiale diens vir kinders. Hierna gaan groepies kinders en sing by etlike huise en kry mosbolletjies en lekkers.
Dit verlang ek uit my dae op Elim … die veld in vaar om blomme te pluk, die versiering van die kerk en die sang.
Om weer in die fees deel te neem, het ek dit sterk oorweeg om vanjaar Genadendal toe te gaan van waar my vrou is. In die laaste paar dae moes ek egter dit opsy skuiwe weens kommer oor ons kinders se gesondheid (varkgriep by die laerskool en kleuterskool) en verpligtinge by die werk.
As 'n gebaar sal ek my vrou 'n munt aanbied om te loot vir volgende jaar – dalk is ek gelukkig en die roep val op Elim. Dit is my hunkering om weer Kinderfees op Elim deur te bring – en te kyk of die blomme nog so mooi is, en die kerk se boord waar ons Sondae vrugte vasgelê het steeds goed versorg word.
Sondag sal ons Johannesburg toe gaan vir Kinderfees. En in die stad is dit anders, en nie so lekker as op die platteland nie.
Yuri

