Afrikaans het hierdie week 'n groot digter verloor: Vernie Plaatjies, 47, gebore op Bredasdorp, gestudeer aan UWK, skoolgehou oralste op die Kaapse Vlakte.
Uit een van sy ongetitelde gedigte, wat ek uit die destydse Die Suid-Afrikaan onthou: hier maak die lewe nog bang-bang besluite / terwyl ons die ene jollie-lekker aarde / met moerkoffie in ons hande / bry oor halflyfonderdeure / en gaap / terwyl die son eier-oop / in die douvarsmis van soggens kraak ...
Ek groet hom as ‘n mede-Overberger, die geboortewêreld van ander grotes, soos PJ Philander, dr Con de Viljee, Marlene van Niekerk, Petra Muller en Audrey Blignaut.
Rus in vrede, my ma se kin'.
Heindrich Wyngaard


