Bokomo-brekfisbrief; 23/04/09: Wat is die prys vir menslike evolusionêre ontwikkeling?

  • 0

 

 

Soms, as dit donker word en ek luister nuus of lees koerant of die een of ander wetter probeer by my huis inbreek en ek verwilder hulle met 'n skietery dan ...

Ek wil nou nie 'n geweeklaag en gekners van tanne oor die geldigheid van die idee van evolusie op tou sit nie. En of die gedagte dat my en jou se pappie en mammie 'n apie was, die een of ander vreeslike sondigheid is nie.

Aanvaar vir 'n oomblik dat die mens wel evolusionêr ontwikkel het. Net 'n bietjie. (Die Engelse noem dit "temporary suspension of disbelief.") (Asseblief, my lief.)

'n Nie-reglynige safari van ontwikkeling kan van die volgende insluit (met 'n paar doodloopstrate, kinkels en vermiste skakels):

So ongeveer 7 miljoen jaar gelede (en ons moet nou nie stry oor 'n miljoen of twee nie - byt op jou tande en haal stadig asem. Die slimmes stry nog in alle geval) sien ons vir Sahalenthanthropus tchadensis ongeveer so groot soos 'n chimp. Definitief nie cute nie en vreeslik harig. Ek gaan nie die hele ou spul beskryf nie maar na onse harige voorouer apiemens, volg Orrorin tugenensis, Ardipithecus ramidus kadabba, Ardipithecus ramidus, Australopithecus Afarensis, Australopithecus Africanus, Australopithecus Boisei, Australopithecus Robustus, Homo Habilis, Homo Erectus, Homo Neanderthalensis (hier en daar, veral by sportbyeenkomste, duik Neanderthalensis nog op).

Dan! Homo Sapiens is tot onlangs nog beskou as die "moderne mens". Dit word algemeen aanvaar dat H Sapiens die kroon van die evolusionêre "skepping" is.

Tussen ons gesê, ek hoop dat wanneer die Bybel van Adam en Eva praat, dit H Sapiens bedoel. As Eva soos S tchadensis gelyk het, en ek Adam was, het die menslike spesie net daar uitgesterf.

God: Adam, ek het vir jou 'n vrou gemaak.

Adam: A! 'n Presentjie! Naais. Wat is 'n vrou?

God: Ek is self nie heeltemal seker nie, maar hier is sy. Jy moet haar "ken" en die aarde vul ... Haar naam is Eva en sy is 'n Sahalenthanthropus tchadensis.

Adam: "Ken" soos in ... ?

God: Netso.

Adam: Ek moet die aarde met dit ... haar "vul".

God: Jip.

Adam: Herre.

Adam het op sy tande gebyt (sy het hom gebyt) en die ding gedoen en goed gedoen. So sit ons uiteindelik met ongeveer 6,7 biljoen of is dit miljard H Sapiens wat die wêreld vol rondhol en doen wat H Sapiens doen.

Nou, hierdie H Sapiens het 'n paar baie spesifieke en unieke kenmerke. Sommige is heel oulik. Daar is egter 'n paar ander kenmerke wat heel uniek is aan H Sapiens.

H Sapiens: Wat bedoel jy, uniek. Dis mos goed, of hoe?

God: Ek weet nie so mooi nie. Alles wat uniek is, is nie noodwendig goed nie ...

H Sapiens: Soos wat nogal, hê?

God: Wel, soos TH White tereg opmerk, is H Sapiens die enigste spesie wat uit plesier doodmaak ... daaruit genot put om ander te martel. Oorlog is 'n unieke H Sapiens-tydverdryf ... en nogal dikwels in my Naam ...

H Sapiens: Wel, U het self gesê, heers oor die ...

God: Ek het nie gesê fok dit op of roei dit uit nie ...

H Sapiens: Ja, maar U het ons so geskape ... na Julle beeld ...

God: Watter ene? S tchadensis? Is jy gek? Dis nog 'n unieke kenmerk van H Sapiens, om iemand of iets anders die skuld te gee. H Sapiens het tot 'n volgende vlak ontwikkel ... Homo Ferox, Mens Wreedaardig.

"And when considering the plus side of going to war ... for most other animals, it offers ‘some faint hope of exterminating the human race.' " (TH White: The Once and Future King.)

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top