Bokomo-brekfisbrief; 23/02/2011: Een van daardie dae - nog meer

  • 0

Nadat ek reeds my brief aangestuur het, was dit nog nie die einde van my dierbare Donderdag nie!

Twee duiwe wat gereeld my hondjie se kosbak in die kombuis takel, (dis nou wanneer die agterdeur oopstaan) het geskrik toe ek skielik op hulle afkom. Die een het op die dakbalk in ons sitkamer hom gaan tuismaak en ’n wyle later op die rusbank stelling ingeneem om moed bymekaar te skraap vir die vlug by die oop deur uit. Natuurlik los die knaap toe ’n allemintige pers dankiesê blommetjie met ’n lang steel, op my gekoesterde sitgoed! Die ander een het al pikkende teen die kombuisvenster gespook om vryheid. Ek gooi toe maar ’n doekie oor hom, was nie gou genoeg nie en staan met ’n handvol vere waarmee ek ’n kussing kon stop! Met die geveerdes uiteindelik mankoliekig en skeef geveerd na buite, besluit ek om met Brakkie te gaan stap.

Op die sypaadjie, merk ek dat nóg ’n tak van my boom gebreek is en half oor die straat hang. Ek probeer toe die spulletjie beredder, deur te trek aan die tak. Hygend ... ek hoor net ’n slag en daar lê ek op my gaai halfpad bo-oor my verskrikte viervoet! My eerste reaksie was om by myselwers dankie te sê dat die straat op daardie oomblik verlate was. Met gekrenkte Kwienlike waardigheid hobbel ek toe maar terug die huis in.

Nodeloos om te sê, my sterre was nie meer sterre nie, maar twee potblou planete!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top