Ek sukkel al ’n heel lange tyd met ’n paar ekstra strategies geplaaste rolletjies. Noem dit muffin tops of gerysde deeg net wat jy wil maar dit is botweg gestel, sommer net vet.
Hoe dit ook al sy ... Feit bly staan ek is oorgewig! Ek kan die hele dag min eet maar van 15h00 gaan ek in ’n behoorlike 'feeding frenzy' in. Nes ’n uitgehongerde haai, vreet ek dan alles wat voorkom en as dit nie lekker is nie, versmoor ek dit met tamatiesous en wurg dit in.
Ek het toe die liewe Nataniël se bruin rys en lensie-dieet begin maar genade, dit is nie maklik nie. Die kilos het verdwyn maar ek is genees van rys en lensies. Ek het toe besluit om ’n bekende "milkshake"-drankie te probeer en het net meer geoefen, minder geëet en baie besig gebly veral laatmiddag. En as die 'cravings' my beetpak, dan dokter ek dit weg met swart, bitter rooibostee. Coke is nie meer lekker nie en tjoklits het ’n bederfitem geword maar slegs een keer per maand. Drank is nou neusie verby en my lus vir slap tjips is daarmee heen.
Ek is nou drie maande ver op die lange pad en ek is baie ligter (10 kg) as voorheen en voel en lyk jare jonger. Ek stap nou amper 2 kilometer ver elke dag (veral die laatmiddag) en die berugte saalsakke is besig om te verdwyn.
Hier gaan ek beslis bly. Klere is skielik te groot en dit is nie ’n ramp nie maar ’n absolute heerlikheid.
Dit gaan alles oor beheer en nou as ek en my beste vriendin (my skaal) mekaar elke oggend groet, bevestig ek weer aan myself – ek is die moeite werd en hier gaan ek bly. Gly gaan ek seker maar, ek weet nou wat en hoe om terugval te keer.
Maar niemand het my ingelig dat dit nie maklik gaan wees nie ...
Kersgroete aan almal ... Geniet die vakansie en reis veilig.
Evie


