Bokomo-brekfisbrief; 22/12/09: Hoekom is Kersfees en Krismis net nie dieselfde nie?

  • 0

Hoekom is Kersfees en Krismis net nie dieselfde nie? Dit verskil soos my plaasstem en my stadstem. Dit verskil soos duur wyn en papsak. Krismis begin op ’n plaas al laat November. Werkslus verdwyn soos die beloofde dertig persent kans op reën op SABC2.

My werkers oefen geduldig die Kersspel waarmee ek hulle help. Soms skree ek op Maria en dan gil ek weer op Josef  of op die drie minder wyse manne wat gewyn laat opdaag en nog hulle woorde ook vergeet het.

Dan huil een van die engeleskaar snot en trane want my windhond het haar Grazy Store-vlerke opgevreet. Ek belowe ander vlerke en die volgende dag bel ek tak na tak van die winkelgroep, maar al die vlerke is uitverkoop. Ek kry by Bargain Basket ’n paar vlerke so blink dat jy ’n sonbril moet opsit om die goed met veiligheid te vervoer. Die res van die engeleskaar blaas hulle bekke op, want nou steek hulle vlerke af. Ek sluit die windhondteef toe sodat sy nie dalk ’n paar stelle vlerke gevoer word nie. My meisiekind koop fairiedust en maak die engele se gesigte na behore blink. Die vrede word herstel.

Nee, besluit my spelers, hulle dink hulle moet gedoop word voor hulle reg gaan wees vir hierdie  opvoering. Dat hulle nou geseënd kan wees en die konsert ook.

‘Abel, julle gaan nie nou brongitis kry en dan so hees soos ganse “Stille Nag” moet sing nie.’

Nee, hy is ’n kerkman van formaat en sal die dopery reël vir ’n lekker warm dag. Kan hulle met hulle wit gewade waarin hulle gaan optree gedoop word? My nekhare klim die lug in.

‘Jissie Abel, ek dink nie dis ’n goeie plan nie.’

Maar die doopreëlings gaan aan en die weer bly mooi. Die Modderrivier gedra haarself mooi. Die water kibbel behoorlik in poësie onder deur die laagwaterbrug waar die dopery altyd plaasvind.

Sondag gaan die finale reëlings dan ook getref word. Een van my mense moet altyd Sondag so halfvyf vinnig die diere kom versorg. Halfvyf kom en gaan en ek is nie regtig vreeslik gesteur nie, want dit is somer en die persoon kan maar later ook kom kosgee. Sewe-uur besef ek dat hier nog nie ’n siel op die werf was nie. Die skape (bedorwe brokkies) staan en mê-mê vir hulle onnodige koringmeel. Die perde draai om hulle bakke. Hulle dring aan op hulle bederfie.

Ek bel op Abel se selfoon. ‘Abel, is iets verkeerd? Waar is die man wat moet werk?’

Ek hoor Abel se tong sleep so effens: ’nee, ons het mos die bakkie gerol.’

Ek slaan amper agteroor. ’nee’ niks verkeerd nie, maar hulle het die bakkie gerol. WATTER BAKKIE!!!!

‘Die dokter se bakkie, toe ons by die kerk gegaan het.’

My bakkie! My bakkie! En sy stem klink nie ’n aks hoër as wanneer hy vir my kom sê daar is nie water in die dam nie. Hulle het die bakkie sonder toestemming geneem. Hulle het nie een ’n lisensie nie. Hulle het passasiers gaan oplaai, die wyse manne by Raubex se padkamp, Herodes by die melkboer, die engele by die perdeboer. Maar daar is niks verkeerd nie. Die bakkie het net gerol.

Ek en my buurman ry na die gevalle engeleskaar. Maria huil dat die snot spat. Het sy seergekry?  Nee,  maar Jesus se kop is af.  Sy het geweet sy moes hom nie saamvat nie, maar sy wou hom so graag vir die muruti se vrou gaan wys. My antieke porseleinbabapop! Sy kop is gelukkig nie af nie, maar daar is ’n bars deur sy gesig. Gelukkig is daar ’n pophospitaal in Bloemfontein. Herodes is sterk getrek en hy huil sommer saam oor baba Jesus.

Ek is so opgecharge ek jaag Josef al om die bakkie. Ek wil hom asseblief net een helse klap gee, maar my knie is seer en hy bly voor. Ek het net nege dae vantevore ’n scope gehad. Dus vloek ek hom maar vir tien minute sonder om een maal myself te herhaal. Ek hoor een van die wyse manne bewonderend sê: ‘Jo, die dokter vloek soos ’n man!’

Ek gooi die bewonderende wyse man met ’n klip. Mis. Ek mis Josef nie.

Ek beduie hulle verder dat hulle maar kan bloei tot Maandag; ek is nie hierdie Sondag aan diens nie. Die engel wat aan Maria in die droom moet verskyn begin huil. Ek kry haar jammer oor die seer skouer en gee maar ’n handvol  pynpille. Vir die mans het ek geen genade nie. Hulle moet bloukolle en al maar die diere gaan versorg en laat een blou bles blik sement emmer deksel nou net probeer siek boek Maandag.

(Ek belowe om van die Kersspel en die dopery te vertel)

Douwlina du Plessis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top