Bokomo-brekfisbrief; 22/07/2010: Appel

  • 0

Vanoggend kry ek die tyding: Appel is dood. En jy weet mos hoe dit is met doodstydings: "Nee! Moenie vir my sê nie! Dit kannie wees nie!"

"Jip, hy het doodgebrand."

"Ag, herre, hoekom op so 'n manier?" Al weet jy dat dit tog op een of ander manier sy lot sou wees.

So kom die mense in en vra of ons gehoor het van Appel en sy tragiese heengaan. Die nuus het vinniger versprei as die Raadslid wat in die veld met 'n dame van die nag gevang is.

Iemand het die "huis" bo-op hom loop staan en aan die brand steek. Mens behoort nie so te gaan nie, regtig.

Want, of hy nou wou of nie, Appel was tog soort van 'n legende hier rond gewees. Om die mees verkeerde redes. Want hy het geboemel. Iewers lank terug, dalk met geboorte, ek sallie wetie, het iets fout gegaan. Want Appel was nie heeltemal reg nie. Al die skroewe was nie reg vasgedraai nie. Iewers het 'n varkie los rondgeloop.

Hy het altyd soos 'n dief verskyn by die motor se ruit en dan met een of ander lang verduideliking gekom hoekom jy hom R10 moet gee of hom moet oplaai. Want hy was altoos iewers op pad heen.

Ouers gesiene mense hier in Oesterland wat met die tyd maar moed opgegee het met die klong wat miere in sy gat gehad het. Soms, as ek hier om die punt gery het, dan het ek hom met 'n geel baadjie geëien karre beduie hoe om uit te reverse. Dikwels op die snelweg gekry en dan moes hy dringend in Knysna of iewers uitkom vir 'n dringende afspraak. So het mense maar vir Appel aanvaar as deel van die dorp. Want jy kan hom nie weg wens nie, so jy moet maar verduur.

Appel het maar loop slaap waar hy 'n holte gekry het en ongelukkig was daai holte gisteraand op die mees verkeerde plek. Want jy loop tiep nie in plekke waar mense met lang messe rondloop nie.

Hulle het hom gekry uitgebrand iewers in Kwa.

Hopelik het hy nou tot ruste gekom, want ek het 'n vermoede hy het ten minste nie geweet wat hom getref het nie. Want hy was mof gerook en dik getik gewees. Ook beter so.

Nou gaan mens altoos uitkyk vir die klong, want al was hy soms 'n ergernis was hy 'n goeie ergernis.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top