Bokomo-brekfisbrief; 22/06/08: Ver gooi in Henties

  • 0

Namib,

Ek lees nou al baie lank die briefwisseling op SêNet. Jou brief oor Henties dryf my om vir die eerste keer deel te neem.

1971, my dienspligjaar, Walvisbaai, sand, verlange na Oesterland waar ek grootgeword het en vandag nog ʼn lewe maak. Ek land Paasnaweek in Walvis en word vir my eerste tien dae in die offisiersmenasie ingeprop om potte te skuur. Alles wat negatief was tref my tot Saterdag na middag toe die sersant-majoor ʼn krat vis in die koelkamer kom bêre. Toe voel ek soos ʼn koshuiskind wat na ʼn skoolvakansie onder sy naels ruik sodat die rooi-aas-reuk sy verlange kan salf.

Die eerste naweekpas koop ek ʼn tolletjie lyn, vier hoeke en sinkers en met die handlyn vang ek toe ʼn sandhaai. My koors was gebreek en SWA en sy mense het onder my vel ingekruip. Rugby neem my deur jou land – Stathmore, Umaruru, Karabib en Usakos waar ʼn moedelose pa sy seuntjie se tiet oor ʼn bottel bier (20c) trek en die knaap sommer dadelik stil word.

Namibië se mense was elke keer bly om my te sien, al het hulle my en my maters van geen kant geken nie. Mens-kwaliteit soos ek nog net in jou dorsland kon ervaar.

Ek het later Namibië gereeld besoek om te jag of om die binklywe van die skedelkus aan te keer. Die vis het minder geword, maar Namibiërs het die suidwesters gebly wat ek destyds leer ken het.

Dit is jammer dat die briefskrywers op die Sê jou plaas wil uitdeel aan opkomende boere. Dit is maar die Republiek se styl. Hier gun ons almal dit wat hul eis solank dit uit iemand anders se sak kom. Ongelukkig blyk dit dat die meeste SêNetters nog nie die bies van plaaslewe gedrink het nie. Vergeef hulle maar, hulle weet nie wat hulle doen nie.

Mosselbos

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top