Ek stap die anderdag vroegerig by 'n teekamertjie in want ek wil 'n ietsie eet en drink. 'n Mens plaas jou bestelling by die toonbank, hulle gee jou 'n nommer en dan gaan sit jy. 'n Rukkie later roep hulle jou nommer uit en dan gaan haal jy jou ete op 'n skinkbord by die bedieningsluik.
Ek vra vir die vrou ek wil 'n "plain cheese and tomato sandwich" hê.
"Sorry, we only got toasted", sê sy.
My brein staan vir 'n oomblik stil en ek tuur oor haar kop na 'n prent teen die muur. Dit kom by my op om vir haar te verduidelik hoe maak mens 'n plain sandwich, jy hoef dit net nie te toast nie. Maar ek wil nie vandag Afrika aanvat nie en sê net "OK", betaal en gaan sit.
'n Paar dae later is dit weer so. Ek het 'n vriend by my en hy wil 'n plain cheese and tomato sandwich hê.
"Sorry, we only got toasted", sê sy weer.
Nou val ek weg en verduidelik. Die vriend het 'n seer in sy keel en hy kan nie die harde geroosterde brood eet nie.
Sy sê niks, maar draai om en loop na die kombuis langsaan. Ek kan sien hoe sy die yskas se deur oopmaak. Daar is 'n stapel snye brood op die een rak, sy neem 'n paar snye in haar hand en bekyk dit terwyl sy dit op en af skud, blykbaar om te sien hoe flapperig dit is. Dan sit sy dit terug en kom weer toonbank toe.
"Sorry, bread too dry, baker he's not come."
Nou verstaan ek skielik. Hulle gebruik die ou brood om te rooster, vir 'n "plain sandwich" gebruik hulle vars brood en die lorrie het nog nie gekom nie, want ek is te vroeg op hulle.
Die mense van Afrika moet net leer om beter te kommunikeer, regtig, anders ontstel hulle 'n mens met die vreemd-klinkende dinge wat hulle partymaal kwytraak.
Varkspek


