Hallo, Kolonie!
(Jou eerste naam is nie dalk "Olie" nie?) 😉
Toe jy die uitseensetting gegee het van die Boland en die noordelike en suidelike voorstede het ek daaraan gedink dat geografiese benaminge soms nogal vloeibaar kan wees. ("Vloeibaar", by wyse van spreke – niks met die brandewyngordyn te doen nie!)
Toe ek jare gelede vanuit die Boland in Natal gaan werk het, was ek skoon verbaas om te ontdek wat húl interpretasie van "die Kaap" was. Die ouens het byvoorbeeld gesê hulle gaan gou vir die naweek "Kaap toe". Ek het gevra of hulle gaan vlieg. Nee, hulle ry met ʼn kar, sê hulle. Toe vind ek uit hulle gaan Kokstad toe!
Hoe verder ʼn mens van Kaapstad af was, hoe meer het opvattings van benaminge soos "Kapenaar" en "Bolander" verskil. Ek vermoed dis vandag nog so.
Maar laat ons eers ʼn bietjie klarigheid kry. Waar presies is die "Boland"? Iewers het ek gelees dat die hele streek van die Bergriviermond af tot by Swellendam in vergange se dae as die Boland ("Bovenland") bekend was.
Vir my is die Boland rofweg van Stellenbosch noord-noordwes tot by Malmesbury (vanselfsprekend sluit dit die Paarl, Wellington en Franschhoek in), en van Worcester en omstreke af oor Robertson tot min of meer Montagu en Bonnievale. (In my kinderdae het ouens van al hierdie plekke – behalwe Stellenbosch – vir Boland rugby gespeel).
Wat Malmesbury aanbetref: hier het mens mos nou weer ʼn meer spesifieke naam vir dié streek: die Swartland. (Glo as gevolg van die renosterbossies). Sou dit ook nog "Boland" wees? En oos van die Hottentotshollandberge, van Caledon af Riversdal se kant toe (Swellendam inkluis), kry jy mos eers die Overberg en dan die Rûens. As kind onthou ek dat sommige mense dit uitgespreek het as die "Rêens", met ʼn genasaliseerde "n"!
Om terug te kom by my oorspronklike storie van hoe mense uit meer noordelike dele "Kapenaars" en "Bolanders" sien. My mense in die Groot Karoo het na almal wat ek "Bolanders" sou noem, as "Kapenaars" verwys. Vir my weer, wat in die Boland grootgeword het, het "die Kaap" net een betekenis: Kaapstad. As jy bv op Stellenbosch bly en jy sê "ek gaan Kaap toe", bedoel jy Kaapstad.
Nou wonder ek egter oor jou plasing van die noordelike voorstede: ek sou darem nie sê dit gaan so ver as Du Toitskloof nie! Dit eindig darem seker by Durbanville/ Brackenfell/ Kuilsrivier, of hoe? Of het dinge verander met dié dat die Kaapse metropool deesdae tot kort duskant Namakwaland strek?
Groetnis!
Swys


