Weer sulke tyd. Die tyd vir manne en dames met groot masjiene tussen hulle bene. Staan en oesters tel toe ek die gebrul doer van die N2 af hoor. Jip, dit klink bekend maar tog ook nie. Ek mis die Busa se brul tussen die ander fietse deur. Mens se oge raak mos later uitgekyk as jy vir jou mense moet wag. Arthur beduie toe ek my kop lig: "Dis laasjaar se moeilike manne daai." En so staan ons nader om te sien wie daar van die stop se kant af aankom. Een, twee ... tien, vyftien ... Jip, dis hulle! Hoodlums unite! En heel voor lig die Kawa se voorwiel en jy beduie dat die glase maar nadergebring kan word.
Groot beer Toppie strompel seerlyf van daardie lieflike stuk masjien (herre, maar die Japanese kan 'n bike bou!) af. Die trane lê vlak want mens mis jou mense, verdomp wil! En so stop die hele gepak. Jy weet mos hoe dit met weersiens gaan: "Hoe gaan dit met Piet? Nee, Piet het homself in sy moer gery. Ons het hom annerdag gebêre." "Hy het nie gely nie."
Ek beduie nog oor die ding waarmee hy nou ry en hoekom hy daardie Busa by die huis gelos het. Toe beduie hy vir my na die blonde stuk wat grasieus van daardie Kawa afklim (hulle klim mos in "stages" af ...): "Mens sit nie al jou kaarte in een pak nie." Beduie hy toe. Herre, daar is maar net iets aan 'n vrou as sy agterop 'n ordentlike fiets sit. As sy haar boude so windgat uitsteek en net so 'n stukkie onderklere wys. As sy daardie valhelm afhaal en haar maanhare uitskud. Hoekom lyk 'n denim en stewels en leer eenvoudig net altyd beter aan 'n vrou? Of is dit dalk die fiets?
Skielik wil ek nie meer my gs1000 hê nie. Die ding is uit die mode, man!
Wat is dit aan die brul van 'n ordentlike fiets wat mens se hart so kan roer? Dis tog net pistons en sleeves en stukke metaal wat aanmekaar gesweis is? Dalk is dit die spoed as jy die wet oortree op die snelweg en weet dat geen spietkop jou ooit kan vang nie? Dalk die subkultuur wat gesag uitdaag?
Ek wetie en gee nie om nie. Tyd vir enjins om 'n slag behoorlik te brul. Tyd vir, wel, dis 'n subkultuur en as jy nie 'n biker is nie sal jy anyway nooit in der ewigheid verstaan nie.
Tyd vir 'n GS om bietjie pad te vreet.
oester
NS: Wish you were here (ek mis jou elke dag en die belofte wat gemaak is), want 'n bike is maar net nie 'n bike as jy nie die regte persoon agterop het nie. En om een of ander rede sien ek nie iemand anders agter op my GS nie.


