Bokomo-brekfisbrief; 22/03/09: Is my vriendin nog my vriendin?

  • 0

 

 

Anderdag het ek ʼn vreemde ervaring beleef.

Ek stap in ons Mall rond op soek na iets noodsaakliks. By twee verskillende winkels is die verskil in prys so groot dat ek besluit om by al die winkels wat die produk aanhou, te gaan kyk. Met my kop in hoogste versnelling is ek toe goed op spoed op my prysvergelykings-missie.

In ʼn stadium raak ek bewus van ʼn vrou wat van voor af aangestap kom. Van ver af lyk sy baie bekend, maar ek kan net nie dink wie is sy nie. So agt meter weg besef ek dis mos ʼn ou vriendin van Kimberley wat ek seker vyftien jaar laas gesien het. Opgewonde versnel ek en probeer so elegant as moontlik op haar afstorm.

Toe ek egter by haar kom, sien ek dis nie die vriendin nie. Sy het dieselfde figuur, dieselfde lengte, daar's dieselfde sprankel wat ek so goed onthou, maar dis nie my vriendin nie. Ek voel half simpel en wil terstond aanstap. Toe gryp die vrou my om die nek en klapsoen my, en sy sien hoe uit die veld geslaan is ek. Sy los ʼn gilletjie, en begin praat oor Kimberley en sê ons moet gaan koffie drink, daar is baie gesels om in te haal. Dit ís toe Suzie, maar ʼn Suzie wat van naderby meer vreemd as bekend lyk.

Hierdie Suzie kan omtrent nie lag nie, so styf is die vel om haar mondhoeke gespan. Wanneer sy wel lag, lyk dit so aardig dat ek omtrent nie na haar kan kyk nie. Haar neus lyk ook anders, asof dit nie by haar pas nie. En sy het altyd ʼn mooi neus gehad. Daar is nog allerhande ander klein goedjies wat ek ook opmerk.

Ek het my seker behoorlik aan haar sit en vergaap, want op ‘n kol sê sy: "Ek sien jy síén! Dit was elke sent werd - jy't my amper nie eens herken nie!" Toe begin sy my vertel van alles wat sy laat doen het en borduur behoorlik oor hoe goed dit haar laat voel. Maar ek sien niks raak van al daardie voordele waarvan sy so vertel nie. Sy het nie net vreemd gelyk nie, sy was ook anders. Selfgesentreerd, asof net sy nou in haar nuwe wêreldjie saak maak.

Opgewonde vertel sy my dat ons twee mekaar nou meer dikwels sal sien wanneer sy by haar dogter kom kuier. Ek hoop die teenoorgestelde. Natuurlik is dit heerlik om saam met ʼn ou vriendin te kuier, as sy is en lyk soos die mens wat jy onthou.

Ek weet nie of hierdie nuwe Suzie ʼn spieël het nie. As sy het, glimlag sy waarskynlik nooit daarin nie. Sy geniet seker die styfgetrekte plooilose gelaat wat uit die spieël na haar terugstaar.

Suzie, kyk asseblief ʼn slag behoorlik in jou spieël terwyl jy glimlag. Dan onthou jy dit wat jy daar gesien het wanneer jy weer kriewelrig begin raak oor wat jou ookal pla.

Douwleen Bredenhann

NS - Suzie is ʼn skuilnaam.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top