Bokomo-brekfisbrief; 22/02/2011: Gaan uitgewers, boekwinkels en die boek oorleef?

  • 0

Australië se reuse boekwinkel Angus and Robertson is onder administrasie geplaas. Lees: Bankkrot. Twee sustersgroepe, Borders en Whittcoulls in Nieu-Seeland, is ook onderdeur. A&R het 260 takke in Australië met ongeveer 2600 werknemers. A&R se verlies was $43m (ongeveer R300m) die afgelope jaar.

Dis ’n hartseer dag. Gaan boekwinkels en die boek soos ons dit ken oorleef? Is dit bloot ’n bemarkingsverskuiwing? A&R meen dat meeste van hul ou klante nou boeke aanlyn koop, in veral die VSA en Brittanje, teen ’n goedkoper prys as wat boekwinkels dit kan doen. Afrikaanse boekwinkels het ’n mindere probleem, omdat Afrikaans tot SA beperk is.

Ek meen dat die tradisionele boek – die tasbare, gebinde artefak – self bedreig word. Al hoe meer lesers gebruik elektroniese lesers. Die boeke is heelwat goedkoper en boonop is dit groen-vriendelik – jy hoef nie ’n boom af te kap om ’n boek te druk nie.

Die aanpassings wat ons ouer as 50 moet maak, is groot. Ek het lekker gelees aan Comestor se beskrywing van die Shakespeare en Co-boekwinkel in Parys. Maar sulke bedrywe lyk al hoe meer na outydse heimwee-bedrywe. Die inligtingsrewolusie het ons ou sekerhede onder ons uitgestamp. Ons sal maar in die snelle waters van daardie rewolusie moet saamgaan, anders gaan ons lelik agterbly.

Ai jai jai. Alles was so maklik, so bekend, so romanties tot die 1980s.

Klaas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top