Beste Ninjavoet,
Ek sal maar eerder my opinie in properse Afrikaans probeer lug, want my zef-taal is nie juis so "p@@s" - cool soos die Ninja s'n nie. Go Ninja!
Ek het aanvanklik 'n hartstilstand gekry toe ek "Enter the Ninja" op die interwebs raak ge-Google het. My eerste reaksie was natuurlik soortgelyk aan antie Jelleke se tirades so jaar gelede, toe sy nie vat kon kry aan die aaklige manier hoe jongelinge ons taal opfok nie. Kyk, Die Antwoord sal beslis enige puris se maag laat omkrul van intense pyn.
Ek was nog nooit 'n fan van Hip Hop of Rap nie, maar om die een of ander snaakse rede het Die Antwoord, tog my inner-Zef laat uitbliksem met 'n enorme bang. Alhoewel ek van mening is dat Die Antwoord se roem, baie tydelik van aard sal wees, is ek tog uiters gefassineerd met die enorme internasionale belangstelling wat die groep kry. Ek dink Suid-Afrikaners is al in 'n mate gewoond aan die Zef-kultuur wat so gereeld in ons populêre musiek kop uitsteek. Treffers soos die Leeuloop bevat tog 'n matige element van Zef, en die gemiddelde Afrikaner sal half bang wees om te erken dat hierdie tunes te vinde op sy iPod sal wees. Dit is dalk juis in hierdie gees, dat Die Antwoord vir die standaard Afrikaner die harnas sal injaag, omdat dit bloot 'n voortsetting van die normale Zef-resep is.
Suid-Afrikaners sou in die algemeen die gespottery en satire in die lirieke kon identifiseer. Dit lyk tog of die groep aanvanklik die Internasionale gemeenskap kop laat krap het oor hulle styl. Baie mense het geglo die band is 100% ernstig en het hulle geloof vir hulle besonder prestasie om vanuit die Kaapse ghettos tot Internet-legendes te kon styg. Diegene wat egter bewus is van Max Normal se vorige projekte sou dadelik die foefie kon uitwys en die pogings as bloot 'n "kunsskool"-projek kon afskiet. Die hoë kwaliteit videos van Die Antwoord, waarin hulle skoktaktieke gebruik, trek ook beslis aandag en ek dink dat die insluiting van die progeria-lyertjie, Leon Botha in hulle videos bydra tot die skokfaktor en nuuskierigheid .
Die Internasionale musiekarena blyk nogal uitgehonger te wees vir nuwe musiek wat uniek en eksoties is. Die "Enter the Ninja"-video is onder andere tans gelys as 'n Superhit op die Nederlandse MTV-kanaal. Daar is selfs 'n spul Duitsers wat 'n fan club begin het. Ek het so bietjie gesit en kommentare en blogs lees oor Die Antwoord en heelwat interessante reaksies oor die groep se kitsroem gekry. Hierdie artikel weerspieël nogal die gevoel van die Internasionale gemeenskap. Die skrywer verduidelik: "South African rap? Progeria? Those are a few of my favourite things! I didn't have to search much because that shit was ALL over the Internet. Upon first glance my brain screamed then whispered to my eyes. Ok. These people are straight out of a Harmony Korine movie. Where am I? Look at those high-cut blonde bangs?! There's the progi. Oh shit, this actually sounds good! I feel weird. I think I'm falling in love."
Daar woed tans enorme gesprekke op YouTube oor die oorsprong van Afrikaans, en baie Nederlanders, Belge, Britte en Amerikaners sit kop krap oor die vraagstuk of Afrikaans dan nou 'n Europese of Afrikataal sou wees. Natuurlik is daar jou Suid-Afrikaners wat poog om die oorsese luisteraars uit te help, maar dit wil nie altyd voorkom asof dit enigsins deurdring nie. Selfs die vloekwoorde word in gekruide taal verduidelik en bespreek! Hoe dit ook al sy, dit is besondere goeie publisiteit vir Afrikaans, alhoewel dit op so 'n kommin en dekadente manier uitgebeeld word. Van die kommentare sal jou laat skreeu van die lag.
Een persoon vra: "Why do they have Indian accents?"
Ene Jim reageer: "Its close to an Indian Accent, you are right in some respects. But the South African accent is a mixture of Dutch and British English. SA was a product of both English and Dutch colonists. Afrikaans is a mixture of the native Namibian languages. Check the Afrikaans slang in the lyrics."
Bram kom gou tot hulp en verklaar: "They don't have Indian accents. It does sound like it, since the music is somewhat 'punjabi' alike. The accent is a mixture between English and Dutch/Old-German."
Dit lyk asof Die Antwoord se Suid-Afrikaanse herkoms bydra tot die misterie, en dat die Afrikaanse slang bydra om 'n "vars" gevoel aan die musiek te verskaf. Ek is self al die laaste paar jaar heel keelvol vir die hele musiekbedryf, en plaaslike, sowel as internasionale musiek kom vir my baie onoorspronklik voor. Dit is so oorgeproduseer en dit voel deesdae of al die genres dieselfde resep gebruik. Rock, Hip hop, R&B, Rap en pop smelt saam met vervelige elektroniese tunes en die eindresultaat is 'n bra herkenbare klank. Ek verstaan hoekom musiekliefhebbers 'n Antwoord op hulle behoeftes benodig.
Ek sit self en wag, en het dit nog nie gevind nie.
Die Antwoord is nie werklik "next level" shit nie, maar ek hoop dat dit dalk die begin kan wees van 'n tipe anti-establishment musiekbeweging wat hopelik bietjie oorspronklikheid tot bedryf sal voeg.
Groete,
FB


