Bokomo-brekfisbrief; 21/11/09: Vir Erika

  • 0

Hi Erika,

Jy klink vir my na so ‘n "compassionate" persoon. Dankie dat jy namens my opstaan teen Kobus se veroordelings. Ek is so bitter jammer om te hoor van jou seuntjie. Geen ouer behoort ooit 'n kind te begrawe nie. Ek is vir my kind liewer as die lewe self en sal hom vir niks en niemand verruil nie. Sy nuwe pa het werklik ook ‘n verskil aan ons lewens kom maak met sy wonderlike teenwoordigheid en sy verstaan. As Cornelius jou eggenoot is, neem ek aan jy is die nuwe ma van die kleine Catharina Maria? Mag sy vir julle net vreugde gee en bederf haar soveel as moontlik - hier 'n ietsie spesiaal vir haar ...

Ek hoop dat sy dogtertjie sal bly tot die tyd om groot te wees regtig aanbreek. Dat jul huis, daar in die verre ou Wes-Transvaal, 'n leefhuis sal wees met honde en katte en visse en boeke en koffiebekers langs die beddens, musiek op die "draadloos" en effe vuil koekpanne in die opwas. Mag sy haar vingertjies in daai asembenemende tuingrond indruk om dit te kan proe as sy modderkoekies bak. Mag sy ook eendag op onbesoedelde strande speel, skulpies optel en seemeeue en dolfyne sien duik en swem. Ek hoop dat sy slim genoeg sal wees om te weet dat sy goed genoeg is.

Ek hoop dat sy teleurstellings sal ervaar en nie alles kry wat haar hartjie begeer nie, dat sy soms in Monopoly sal verloor, sonder 'n tantrum, soms swak punte huis toe sal bring, 'n diertjie moet begrawe, soms geduldig by ‘n ou mens sal moet sit. Want sien kleine dogtertjie, om te besit en te wen en te slaag is nog nie om te leef nie. Om te leef is om te kan troos, om te verstaan. Dit is om te leer om tevrede te wees met wat jy is en met wat jy het. Dit is om ou mense lief te hê en geduld te hê met hulle wat jou irriteer. Dit is veral om te leer om weer op te staan as jy sou val.

Ek hoop dat sy ander wêrelddele sal besoek en vreemde spyse sal nuttig. Ek hoop dat sy respek sal toon teenoor elke mens en dier, teenoor alle gelowe, dat sy vas en onwrikbaar sal staan en veg vir dit wat syself glo. Ligloop soos 'n bokkie, liefieding. Gooi weg wat jou hartseer sou maak en hou net dit wat die lewe die moeite werd maak: jou onoorwinlike gees, jou humorsin en hoop.

Karin

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top