Daar is niks wat lekkerder proe as 'n yskoue gemmerbier op 'n snikhete dag nie. 'n Paar ysblokkies, die gemmerbier in die glas en sluk. En die gemmer moet in die keel daardie brandende smaak los.
Nou waar kry ‘n mens die beste gemmerbier hier in Pretoria? Ek het al by Tant Malie se winkeltjie by Hartebeespoortdam gekoop en geproe ... en kop geskud.
Hier is 'n kettingwinkel wat Kimberley Ginger Beer vanaf die Diamantstad invoer. Dit is darem iets om oor te glimlag.
Die heel beste gemmerbier in Pretoria is egter iets wat jy in die noordooste kry. Daar by Cullinan onder die skadu's van die eike en jakarandabome. Waar jy rustig kan sit en daardie koudheid kan afsluk, peins en dit werklik geniet en waardeer. En wonder oor die diamante by Premiermyn.
Dit lyk of gemmerbier se rol/geskiedenis/kultuur in ons gemeenskap net ‘n stadige dood gesterf het. By bruilofte, doop, katkisasie en bruilofte is dit voorgesit. By pieknieks en oor Kerstyd was dit ook 'n gewilde drankie. Vir die wat kon, is 'n "ligte" gemmerbier vir die kinders gemaak. En 'n swaarder, donkerder een vir die wat ‘n skop wou kry.
Nuwejaarsdag was die dag om gemmerbier tot disnis te drink. Dit is piekniek en niemand hou jou juis dop nie. Mar bewaar jou siel indien jy begin rondslinger - veral as jy nog 'n kind is.
Die hele kwessie oor gemmerbier bring ‘n mens weer by die vraag - is vandag se samelewing te gejaagd en gerieflikheidsgerig? Jy kan by 'n sekere winkel ook gemmerbier koop wat meer na perde p@# proe.
Tog is daar ook ‘n skrikwekkende feit - dat ons ou mense, die wat kon en wat dit waardeer het, nou besig is om uit te sterf. En die huidige geslag oumas, mammas, oupas en pappas gee nie ‘n duit om oor gemmerbier nie.
Lank lewe gemmerbier.
Yuri
(Ek gaan onmiddellik my ma bel om solank te begin brou aan 'n bottel of drie vir Krismis. Webvoet)


