Bokomo-brekfisbrief; 21/10/08: 'n Aand by die opera

  • 0

 

 

Gedurende die dae toe vroue sterretjies in plaas van tepeltjies gehad het, loop een van my jonger aspirantvennote my rommelrige kantoor binne.

Ja, nè, en wat is jou saak?
HJ, ons wil 'n show 'gooi'.
En? 'Gooi' hom, wat het dit met my te doen?
Ja, maar dis 'n stouterige show.
Dit het nog steeds niks met my te doen nie. Net nie in werkstyd nie.
Nee o dêm nee, nie in werkstyd nie! Laataand.
Nou?
Ons het 'n probleem.
Julle het altyd 'n probleem. Soos om te speel in plaas van werk.
Ons probleem is dat die show half onwettig is.
'n Ding kan nie half onwettig wees nie. Dis wettig of onwettig.
Dis 'n stripshow.
Dis onwettig. Nie half onwettig nie.
Ja, maar dit behóórt half wettig te wees.
Nou wat wil jy hê moet ek doen?
HJ, jy het connections. Miskien, dalk net miskien, kan jy met iemand praat.
Waar wil julle die ding "gooi"?
Die anneks langs die stadsaal. Dis al wat groot genoeg is.
Julle wil 'n ontkleedans hou op staatseiendom?
Nie in die stadsaal nie, HJ, langsaan.
Staatseiendom. Julle is totaal gek.
Miskien, as jy met die stadsklerk en die polisie praat.
Hulle gaan julle sommer voor die tyd al toesluit? Hoe gaan dit my baat?
Ons werk die volgende twee maande gratis oortyd. As jy wil, deurnag.
Sonder om te kerm?
Belowe.
Ek sal bel, maar ek belowe niks. As ek bel, werk julle oortyd. Mahala. Al kry ek niks reg nie.
Dis hard, HJ.
Die lewe is 'n harde plek. Moet ek bel of nie?
Bel asseblief, HJ.
Wie is die danseres?
Glenda. En Oupa.
Oy Vey.

Ek bel. Polisie eerste. Kaptein XX. Stasiebevelvoerder. Ek vertel die storie.

Wie dans?
Glenda.
Die slang ook?
Blykbaar.
Ek is nie genooi nie.
Wil jy genooi wees?
Ja.
Oukei.

Stadsklerk: Hoe bedoel jy dis soos opera?
Bietjie musiek, baie dans.
Dans soos styf dans of soos skoolkonsert?
Stout skoolkonsert.
Hoe stout?
Kaalgat.
Jirre!
Ja.
Kan ek kom?
As jy wil.
Ek wil. Ek dink ek wil. Ek weet nie of ek wil nie. Ek sal met Griet praat. Ek het nog nooit 'n blou jop gesien nie.
'n Wat!?
Ek het gehoor dis wat hulle dit noem.
Salig is diegene ... Ek kry vir jou plek. Naby.
Moet ek 'n kaartjie koop?
Nee. Jy is 'n eregas.
Heng! Hoe laat?
Half agt.

Hei, Hennie. Julle show kan rol.
Og, dankie, HJ. Kan ons jou iets gee vir jou moeite?
Nee. Julle gaan betaal, boetie. Met sweet!

Die hele dorp is daar. Heel stigtelik. Die manne het daste aan en is blink geskrop. Die gades dra lang rokke. Dis mos soos opera.

Die storie begin heel mak. Glenda dans. Dis 'n amper gewyde stilte toe sy die kleertjies begin afgooi.

Die stadsklerk sweet. Hy is besig met die groot X! Van naby! In sy koorsige kop warrel fantasieë rond waarvan hy die perke met moeite beteuel. Sy Griet fluister gerusstellend in sy harige oor en sit haar hand bemoedigend op sy rukkende been.

Dan haal Glenda vir Oupa uit 'n mandjie. Die gehoor kreun saggies. Sy paradeer haar naakte lyfie op die maat van Cher se "Dark Lady" (as ek reg onthou) en sy en die slang wriemel op die vloer rond.

Sy kry uiteindelik die ongedierte aan sy kop beet en beweeg nader aan die manne wat in die voorste gestoeltes sit. Nou kyk, dis nou nie die grootste luislang wat ek al gesien het nie, maar sentimeters van jou gesig af is dit 'n moerse ding! Die manne hou niks daarvan nie.

Iewers vanuit die voorste gestoeltes bulder een: "Sit hom terug!"

Gil 'n ander ene: "Kannie! Hy's styf!"

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top