Ellen,
Ek sou graag jou suster - en natuurlik die paddas - te hulp wou snel. Ek's glad nie bang vir vratjies (of hare of goete) oppie hanne nie. Ongelukkig kan ek nou nie. Hulle te hulp snel nie, bedoel ek. Vir Jozi is ek so allergies as ‘n politikus vir dink.
Kyk, ek verstaan jóú probleem. Meen te sê met jou suster wat dan nou so vreeslik aan't vloeke gaan in haar briewe. Jis, jy't seker ‘n keer of wat gedog dis FW wat jou adres innie hande gekry het en jouself kas toe geskrik!
Maar wat ek nou glad nie kan kleinkry nie is waaroor jou suster dan nou so die m ... eh ... vieste in is virrie paddas. Wat gaan aan? As sy hier innie Bronberg rond gebly het sou ek geraai het sy's dalk gatvol om innie nag op paddas te trap oppad longdrop toe. Maar daar's mos nie longdroppe in Jozi nie.
Issit oorlat hulle innie swembad wil swem? Is sy ideologies aan 'n soort padda - apartheid verbind?
Dit kan tog sekerlik nie wees oor hulle gesingery nie? Of hou hulle dalk haar manlief wakker en sit allerhande idees in sy kop met hulle amoreuse paddawales? As sy miskien die wortel (of nie, soos die geval mag wees) van die probleem kan blootlê, kan mens dalk beter 'n oplossing bedink.
Mevrou Papkop het wel per geleentheid al gillend en druppend (van water nou) 'n yslike padda wat wou saam stort met ‘n vlieëplak uit die badkamer verwilder. Ek was nogal verbaas oor haar preutse beskeidenheid. Maar dit was een padda.
Vir klomp paddas is biologiese populasiebeheer waarskynlik die beste opsie. Behalwe vir mense (Franse) is daar heelwat soorte voëls en visse wat graag paddas eet. Snaaks genoeg ek nie bewus van enige soogdier, behalwe nou vir die voormelde Franse mense, wat eintlik paddas eet nie. Miskien dalk otters, maar hulle is in elk geval nie geneig om geredelik in voorstedelike tuine te vestig nie.
So terloops, honde (en katte) is ‘useless' vir paddabeheer. 'n Hond maak net één keer die fout om 'n padda in sy bek te sit. Dis nou behalwe vir Fielies, my worsweiler. Maar hy is 'n spesiale "sonskyn-geval" wat maar baie sukkel om selfs die eenvoudigste lessie te leer.
Hoe ookal, hier by my hoewe het ek gesien dat 'n gesonde slangpopulasie nogal geneig is om paddagetalle redelik goed te beheer. Dit geld natuurlik des te meer vir muis-en rotgetalle, wat vir my van baie meer belang is.
Rooilippies eet, sover ek weet, uitsluitlik paddavleis. Maar hulle is ongelukkig maar aan die kleinerige kant en ek twyfel of hulle die baritons en basse vannie paddakoor sal kan baasraak. Nagaddertjies het dieselfde probleem.
Die kobras en rinkhalse is gewoonlik groot genoeg om 'n happie van enige padda te maak en hulle sal gewoonlik nie nee dankie sê daarvoor nie.
Pofadders ook nie. Maar oorlat hulle sulke luigatte is wat daarvan hou om iewers rond te lê en verseg om te roer (amper soos 'n staatsamptenaar) is hulle nogal geneig om in rusies met my brakke betrokke te raak. Ter wille van die vrede gaan stuur ek hulle altyd maar deur die heining by die nabygeleë natuurreservaat. Die pofadders nou, nie die brakke nie.
Ek sal bietjie kyk of hier dalk surplus kobras of rinkhalse opdaag wat ek kan aanstuur. As jou suster nie twisgierige brakke het nie, kan ek dalk so maak met enige pofadders ook.
Anners moet jou suster maar ‘n oulike "French maid" aanstel vir 'n wyle. Só kan suster leer om paddaboudjies voor te berei terwyl swaer se knaende aandag ook sommer bietjie afgelei word.
Groete,
Papkop


