Bokomo-brekfisbrief; 21/09/08: Skaapkop en afval ... Yuri, swyg!

  • 0

 

 

Jis Yuri, jy weet mos Ant Suur Lil is 'n uithalerkok, mensig! Het jy al weer daardie piekniekmandjies vergeet wat Oom Suur Lil pak? In daai huishouding kom daar sekerlik nooit as te nimmer ooit ʼn kitsdis nie, behalwe konserwe uit die spens, natuurlik.

Jou verwysing na die skaapkop en afval laat my nou behoorlik kwyl. Skaapkop is seker die heel lekkerste ding om te eet, selfs lekkerder as oesters en garnale. Net so lekker soos biltong en lietsjies en mango's.

Maar nadat my ou wederhelf die skrik van sy lewe gekry het by die voorstelling destyds en my Ma haar beste kerrieafval gekook het, is dit nou neusie verby vir my met afval en skaapkop. Sien, die ding het so gewerk. Ek het hierdie uitlander huis toe gebring en my broers het behoorlik al hul tande geslyp om hierdie ou eers bietjie hel te gee voordat hy in hierdie ou eerwaardige boerefamilie ʼn staanplekkie kon kry. Vir starters het die een broer hom sommer net na brekfis op ʼn outing gevat, net 200 km weg, en middagete was hulle alweer terug ... die man so effens vaal om die kiewe. En toe slaan die walms uit die kombuis hom in die gesig. Ek sien die man word so effens groen om die kiewe, vat so stilletjies vir hom wyn en gaan staan buite op die stoep ... En daar bly hy toe tot middagete.

In die stoof het die heerlikste skaapkop met kerrie en al in ʼn skaapmaag gebak. Hel, my Ma het haar wragtig oortref daai dag. Die man kom sit toe so styf-styf aan tafel en kyk die reuseskottel met die pronkstuk net so halfmas aan. My ma sny toe die maag oop, en daar kyk die skaap se oge vir hom mooi vas in die oë. Ek sien die man wissel van geel-groen na geel-groen, maar hy's dapper want almal hou hom baie geamuseerd dop. Elkeen kry sy eie lieflingstukkie vleis ... ek die tong en bietjie harsings, my broer die oge en pootjies, die ander een ʼn stuk wang. Die Man sê toe hy sal maar ook ʼn stukkie wang probeer en skep sy bord verder vol groente. Toe die vleis op is op sy bord, dink my Ma sy gaan nou haar lieflingsdeeltjie van die kop met hom deel, en daar, kaplaks, kry Die Man toe ʼn oor op die bord. My ma is versot op die kraakbeentjie in die oor. Hy het dit net so een kyk gegee en gesê: Nee, hy dink hy sal dit maar skip!!

Dit het natuurlik vir groot vermaak gesorg, maar sedertdien vlug hy uit die huis uit as ek wil afval kook - geen genade nie. Nie eers Italiaanse trippa gestowe met baie knoffel, tamatie en witwyn kan sy hart vermurwe nie.

Nou ja, dit was beslis die wonderlikste skaapafval wat ek in my lewe geëet het - al moet ek nou uit my geheue daarop teer!

Groetnis

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top