Ons toekoms is ongelooflik blink.
Die manne met die wysvingers het hul eie agenda gehad. Ons weet dit tog almal. En nee, hulle het nooit die waarheid gepraat nie, en nog minder die dade en woorde by mekaar gebring. En dis oukei, weet jy? Dis net die dermuitrygers en die polssnyers en die ewige rassiste wat nie verder kan kyk nie. Wat was, was.
Wit beskawing? Nee wat. Dalk eerder 'n mate van "wit beskerming" Daar is beskaafd en dan is daar barbaars. 'n Barbaar is iemand wat nie lewe en goed waardeer nie. En kleur of geur het niks daarmee uit te waai nie.
Verrotting is 'n natuurlike proses. Ons moet almal daardeur. Ons is gedoem om kompos te wees. Maar om onthou te word, dis iets moers.
Ek het so 'n ruk terug my grootste hero, Mavenster, ter ruste gelê. Hier kort voor sy einde het hy nog gespot: "Die wurms gaan nie veel hê om aan te vreet nie. Die ou liggaam verval nou." Ons het, soos die tradisie onder ons is, doodseker gemaak geen wurm kom naby sy liggaam nie.
Uiteindelik maak dit regtig nie saak nie. Dit is jou voetspore wat jy los: Soms kan die nasate die groot treë volg. In die meeste gevalle is dit soos kinders op die strand wat na die tweede probeerslag struikel.
Groete uit Oesterland
oester


