ʼn Ryk sakeman hou ʼn wegbrekertjie-verlof op ʼn afgesonderde plekkie in Sentraal-Afrika. Die plekkie is baie rustig en die "kothuis" waarin hy tuisgaan is sommer ʼn paar treë van die meer se oewer af. Een oggend gaan stap hy ʼn entjie langs die meer. Hy sien ʼn man wat in ʼn skuit op die sand, op die naat van sy rug, luilekker op ʼn hoop visnet in die son lê en rus.
Hy groet en is verbaas toe die man hom in effens gebroke Engels antwoord.
Met sy nuuskierigheid geprikkel, knoop hy ʼn geselsie aan en vra wat die man doen, waar hy bly en so aan. Gou word dit duidelik dat die man gewoon ʼn bestaansvisserman is. Die sakeman vra toe of die man al iets vir die oggend gevang het, siende dat dit so ʼn lieflike sonskyndag is.
Vroegdag reeds, vertel hy, het hy sy net gaan uitgooi op die gewone plek en oudergewoonte ʼn goeie vangs aan wal gebring. Die ander inwoners van die wouddorpie het dan ook vroeg in die oggend kom vis koop. "De laaste een is uitverkoop".
Op verdere vrae verneem hy dat die man net een maal per dag uitgaan met sy skuit. Die sakeman besef dadelik dat die arme man ʼn gulde geleentheid onbenut laat verbygaan! "Waarom gaan jy nie meermale per dag uit, sodat jy meer visse kan vang nie? Dan kan jy mos meer geld maak! As jy van die geld spaar kan jy selfs later nog ʼn skuit bykoop? Dit beteken dus nog meer vis om te verkoop! Jy kan selfs na ander dorpies toe uitvoer! Jy kry iemand om vir jou te kom werk op die ander boot! Maar dalk moet jy sommer groot dink!
“Dalk kan jy naderhand ʼn hele vloot skuite besit met ʼn klomp mense wat vir jou werk? Jy kan in ʼn kort tydjie ʼn skatryk sakeman wees".
Met ʼn sweempie van ʼn glimlag vra die man wat hy dan self gaan doen?
Die sakeman verduidelik in sy noppies. "Jy hoef niks te doen nie, want jy is dan mos die baas. Jy kan ʼn luilekker lewe lei en elke dag ontspan en die lewe geniet, en doen wat jy wil, wanneer jy wil".
Weer die effense glimlag. "Wat dink jy doen ek dan nou"?
(Mens moet maar dink voor jy vir ander wil voorskryf, of hoe?)
Neels (Husky) Visser


