Bokomo-brekfisbrief; 21/05/08: Jesus

  • 0

Nee, nie Jesus wat vir so baie mense die weg tot saligheid is nie. Ivan Jesus. Vir sommige ook op sy manier ʼn weg tot ʼn sekere saligheid. Altans, toe hy nog in die posisie was.

Ivan is rietskraal. En lank. Met lang hare net soos Jesus s'n op die prentjies. Maar iets wat Jesus nooit gehad het nie, altans, ek dink nie so nie, is tattoos. Oral op sy lyf, maar die belangrikste een is die een met die nommer op hier onder sy adamsappel. Aangebring soos ʼn regte strikdas. Want sien, Ivan het maar so in die loop saam ook in Pollsmoor en ander Bed & Breakfasts gaan oornag (en sommer vir ʼn jaar of wat aangebly).

Daar is verskeie redes waarom Ivan juis Jesus heet. Die naaste een aan die waarheid het ek een dag so tussen die verwery by homself gehoor:

As jongeling pas uit skool het hy mos maar ambag gaan loop. Doer in "die Kaap". Ambag is dalk nie die regte woord nie, want Ivan "het gaan leer om ʼn painter te wees.” Ivan was maar nou eenmaal iemand wat altyd die norm uitgedaag het. Kanse gevat het. Daardie droom van vinnig ryk word sommer gou wou laat waar word. Anders as sy broers wat almal edele beroepe gevolg het.

Dit is toe dat hy ʼn "prediker" geword het. Hy het die woord gaan verkondig. Hy en sy "dissipels". Die scheme was nogal ʼn goeie een, al moet ek dit nou self sê: Ivan het, synde hy maar ʼn eenoog in ʼn land van blindes was, sommer gou ʼn "gemeente" opgebou. Hy het soms sommer so by die huise "die woord" gaan verkondig. Hy en sy ... noem hulle maar "ouderlinge". Ivan het "the gift of the gab" gehad. Ivan KON bid! Lank, aanhoudend, met passie. So meegevoer was sy lidmate dat hulle eers baie baie later agtergekom het dat sy ouderlinge so onder gebed die lidmate van hul ongeskenkte tiendes beroof het. Ivan het maar aangehou bid en dopgehou wanneer sy ouderlinge die nodige insamelings gedoen het, en het so al insamelende deur die buurt beweeg.

Sy preke is wat hom in die staat se sorg geplaas het. Tog, nou vertel die mense dat hy tog in Pollsmoor ook so op sy manier die woord verkondig het. Wie weet, dalk het hy tog ʼn siel of twee gewen?

Ivan doen nou dit wat hy die beste kan doen: Verf. Sy rowwe drink- en woeste dae is verby. En ja, die man KAN verf, perfeksionis wat hy is. Hy en Fiela is hoeka, na soveel jare van saamwoon, uiteindelik so ses maande gelede gekerk. Smaak my hy is nou regtig op die "straight & narrow".

Sy drome van groot rykdom? Dit laat hy maar aan die Lotto oor, en ek hoop regtig dat hy eendag die groot boerpot slaan. Hy verdien dit.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top