Beste Wouter
Waarom verskil Australiese Engels van Nieu-Seelandse Engels? Waarom verskil dit van die Engels (of is dit al Amerikaans?) wat in die VSA gepraat word? En dit verskil weer van Suid-Afrikaanse Engels. Daar bestaan so iets soos Stellenbosse Engels (soos bv gepraat deur Jan Smuts). Prof Higgins kon vir Liza Doolittle presies sê waar sy vandaan kom. Transvalers sê “My mo en po koak lekker kos,” en as ’n Kapenaar bry-praat, sal ek hom nie verwar met iemand wat uit die Vrystaatse Riemland kom nie.
Die toring van Babel sal ons beslis nie help met ’n antwoord nie, en net op die verkeerde spoor bring; dus al genade is om maar by Charles Darwin te gaan pyp opsteek.
Darwin het sy evolusieteorie van toepassing gemaak op lewende organismes, en bewys dat geografiese skeiding lei tot nuwe spesies. Alhoewel sy opvolgers evolusie in alles gesien het, dink ek nie dis te vêrgesog om, na analogie daarvan, taal as ’n lewende organisme te beskou nie. Net soos die een vinkspesie deur geografiese skeiding van die Galápagos-eilande verskeie vinkspesies tot gevolg gehad het, so sal geografiese skeiding van Engels nuwe dialekte van Engels, en uiteindelik nuwe tale tot gevolg hê.
Waarom geografiese skeiding aksentverskille veroorsaak, sal ondersoek moet word. Miskien verskil Australies van Nieu-Seelands, omdat kommunikasiebehoeftes anders is agv verskil in geografie. Tot watter mate het die Aborigines se baie tale ’n invloed gehad op Australies, teenoor die invloed wat die Maoriese taal op Nieu-Seelands gehad het. Tot watter mate speel klimaat ’n rol. Kan dit miskien ’n vokaalverskuiwing veroorsaak? Ek is nie ’n taalkundige nie, en weet dus nie hoe om dit te ondersoek nie, maar as ek so luister, is ek seker dat die Engels van Suid-Afrika se vokale neig na ’n meer neutrale [É™]-klank. Kan dit dalk agv ons hitte wees wat ons Rooinekke te lui maak om te praat, teenoor Engeland se koue? Of is dit dalk die invloed wat die Afrikaanse neutraler vokaal op Engels het? As ons Afrikaans met Nederlands vergelyk, is hierdie vokaalverskuiwing duidelik hoorbaar.
Groete
Angus


