Bokomo-brekfisbrief; 21/02/2011: Een van daardie dae!

  • 0

Vandag was een van daardie dae! Vroegoggend wemel ons stil straatjie van de motors en paneelwaens. Dis die voorspan van ’n TV-advertensiemaatskappy wat ’n oefenlopie kom doen. Môre gaan hulle van sesuur die oggend tot elfuur die aand ’n advertensie skiet. Die spulletjie loop op en af en die koppies knik, die handjies beduie en penne griffel instruksies neer. Ek worstel om met my klein motortjie deur die skare te beur sonder om een te laat teer vreet. Mense loop om een of ander rede altyd binne in ’n straat as daar baie van hulle is! Dis seker die oerinstink van veilig voel in die bondel.

Later kom ek terug en sluk amper my krone in, want die munisipaliteit se span is besig om die stormwaterdrein skuins oorkant ons erf skoon te maak! My verstomming spruit uit die feit dat ek dit Maandag aangemeld het en gereken het dat ek eers ’n lidmaatskaapkaartjie hemel toe sal moet koop voor iets gedoen word! Hier word definitief gezoep vir ANC-stemme! Aanvanklik is die hele spannetjie van ses doenig, maar toe ek weer moet ry, sien ek vier van hulle stap so stadig, boudeswaaiend die straat op winkel toe. Die ander twee lê heerlik uitgespan op die sypaadjie en koerant lees. Een knip sommer ’n ou uiltjie ook ... Dagdroom seker oor die volgende jaarlikse staking in Juliemaand.

Later sien ek hulle maak nog ’n drein skoon en ek voel sleg oor my wrede gedagtes. Alles pragtig skoon en hulle is vort … Die dreine lê oop, die gemors wat uitgehaal is lê in hope op my buurmanne se mooi gemanikuurde sypaadjies. Hulle het dan met ’n helse groot lorrie daar aangekom. Kon hulle nie maar die gemors saamvat nie? Sulke verbleikte rooi gevaarlinte is om die oop gate en ek bid maar net dat niemand en sy kat of hond daar inval nie!

Nog is dit het einde niet. Ons oorkantste buurman het besluit om aan te bou en heeldag lank word die een vrag boumateriaal na die ander afgelaai. Die vragmotors hoes en poep dik dieseldampe en piep-piep-piep in trurat … Ek wens ek was doof! As ek in my tuin loop voel ek soos die Kwien haarself, want die skare kyk vir my en moet my inhou of ek wuif.

Die vulliswa dreun ook nog verby en laat lê ’n oopgeskeurde sak se gemors net daar. Kiepie vat maar ’n swart sak en maak skoon onder luide toejuiging van die skare! Die Kwien het gearriveer!

Die laaste ramp gebeur toe die baksteenvragmotor my sypaadjie-boom sommer gratis snoei en die helfte van die boom in die straat laat lê. Kiepie wals daarheen en vra baie mooi of hulle maar die ou boompie op hul leë vragmotor sal laai. Gelukkig word dit vriendelik gedoen en ek slaak ’n sug van verligting toe ek die spul vertrekkende takke agterna kyk.

Sjoe! Dit was ’n dierbare Donderdag!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top