Bokomo-brekfisbrief; 21/02/09: Schnauz: my Dunhill-pyp

  • 0

 

 

Hallo Schnauz,

Daar in die vroeë 70's het ek spesiale moeite gedoen om vir my die "regte" pyp by die "regte" plek in Londen te koop. As ek reg onthou, was dié twakkenier juis bekend as Dunhill's, en was dit in ʼn stegie in die omgewing van St James Court.

Ek kan nie onthou of die pyp vier of sewe pond gekos het nie, maar daai dae was dit nogal duur. Dit was ʼn mooi kromsteelpyp wat kon regop staan, en "bruyere" was duidelik daarop sigbaar. (Briar, wilderoos, heiwortel, heidewortel - lyk my dis alles dieselfde houtsoort, nie waar nie?)

Ek het hom gespaar tot by die huis voor ek hom probeer het. Maar wat ʼn teleurstelling! Hy was klipsteenhard - jy sou hom vir ʼn hamer kon gebruik het as jy nie omgegee het dat hy vier of sewe pond gekos het nie. Hy het vuurwarm geword en het altyd soos brandende hout gesmaak.

Nou, ek sien op die 11de dat jy voorbrand maak vir digtheid van grein. My ondervinding was egter oor die jare dat die beste rokie van iewers tussenin kom. ʼn Omie wat sy pype geken het, het my ook toeka dié ding vertel. Hy moenie sag wees sodat hy wegbrand nie, het hy gesê, maar hy moet poreus genoeg wees dat vog deur die hout kan ontsnap. Dit was sy siening, altans. My ervaring het my ook geleer dat ʼn baie harde hout maak dat jou tong brand.

O ja, op daai selfde vakansie in die vroeë 70's koop ek toe mos ook ʼn meerschaum in Amsterdam. Net so ʼn teleurstelling. Kyk, as daar nou ʼn ding is wat vuurwarm rook, is dit ʼn meerschaum. Geen wonder hulle maak die goed met sulke lang stele of sit ʼn leersakkie om die kop nie.

Dis nes jy daar sê oor spattende kooltjies en plastiek langbroeke. Ek het ʼn swart langbroek gehad wat later al hierdie wit kolletjies op my bene gewys het. Eers later het ek daaraan gedink dat ek met swart Nugget-kolletjies op my bene regoor die gaatjies kon gemaak het, maar toe was dit reeds te laat vir daai broek.

En mens het mos nou nie soveel tyd as jy aantrek in die oggend nie. Stel jou voor: jy't nounet klaar gestort, en nou staan jy en swart kolletjies maak op jou kaal bene. En jy moet nou nog ʼn goeie geheue en skattingsvermoë ook hê (En boonop hoop dat jou vrou nie inkom en lawwe aanmerkings staan en maak nie).

Jy noem ook iets oor vuurhoutjies. Daaroor het ek en ʼn paar ander pyprokers ʼn paar jaar gelede gesprek gevoer. Net een ding in hierdie stadium:

Swys se Wet van Vuurhoutjies lui só: slegs elke derde vuurhoutjie brand. En jy kry nooit daardie derde vuurhoutjie eerste nie.

Groetnis!

Swys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top