Bokomo-brekfisbrief; 21/01/2011: 'n Silwer sigaartjie vir Papkop

  • 0

Heito, Papkop!

Ek is skoon van my voete geslaan deur jou gulde verwelkoming!

Miskien moet ons weer ’n slag met die Silwer Sigaar ’n ekspedisie onderneem. Ek het net vanoggend ontdek dat Meneer Suikerberg van die gesigboek-faam miljoene uitdeel. Miskien kan ons daai virtuele printer gaan skaai om die beursie vir ’n ekspedisie te laat bult. Ek gaan net nie weer Alfa Draconis toe nie. Dis te gevaarlik daar. Mind you, miskien kan ons die geloof-debatteerders daar gaan aflaai in die Ewige Lewe van A(lle)teïsmes. En dan gooi ons so ’n wye draai na Sirius toe en verlos hom uit Bellatrix se kloue en bring hom huis toe voor die Slangoog Lord hom nog agter die gordyn van tydloosheid uittrek.

Nee jong, ek werk maar net hard. Dis net rookwolke waar jy kyk soos ek my paar grys selletjies inspan om nuwe formules vir die lewe te vind. Terwyl Maggie Marx nou nie wil sê of sy ook eens op ’n tyd ook Francine Marxis was nie, het ek gedog dis dalk weer tyd vir ’n SêNet-sepie.

Angus (peinsend oor Bestaan al dan nie; lyk erg gesteurd deur die verskyning van Pouveer op die toneel): "Daar bestaan nie ’n God nie. Richard Dawkins is vir my die perfekte versinnebeelding van ’n ateïstiese god."

(Pouveer het ’n presentjie vir hom saamgebring van Nimmerimmerland. Dis al te fraai toegedraai in feetjies-papier. Sy oorhandig die pakkie aan hom.)

Angus (stom van verbasing): “Vir my? Werlik?”

(Hy maak die pakkie oop. Dis ’n kopie van die anner Richard se boekie. Richard Precht. Dis nou die ou wat die ander best sellertjie geskryf het en wonder of hy wel bestaan en indien wel, hoeveel Richard Prechts daar is.)

Angus (kyk gerattle op): “Bestaan ek werklik of is ek net ’n illusie?”

Kobus (met ’n priesterlike beffie om die nek): "Angus, die Swaard van Lig sal jou nog tref vir al jou onwelvoeglike beledigings van die Godheid!"

Angus: "Ag Kobus, hou jou bek. Jy verveel my. Ek gaan my nie eers verwerdig om iets te sê nie. Maar wat het jy daar om jou nek?"

Kobus (sigbaar tevrede dat iemand dit gemerk het; hou homself nonchalant): "O, dit? ... Ek het dit by die pous persoonlik gekry tydens die private oudiënsie wat hy aan my toegestaan het. Hy was bizonder beïndruk deur my vroomheid, maar kon my nog nie heilig spreek nie. Johannes Paul II was nog voor my aan die beurt ..."

(Angus en die ateïstiese brigade snak na hulle asems en val flou.)

Geitjie (draf flink nader en pers haar lippies dun op mekaar): "Yuri, wat staan jy nog so rond asof jy niks te doen het nie! Gaan haal dadelik ’n emmer water om die manne te lawe!".

(Sy vroetel bietjie in haar netjiese slangleer-handsakkie rond en kry ’n botteltjie laventelwater. Sy drup ’n paar druppeltjies op haar netjies gestyfde kant sakdoekie en staan nader aan Kobus om die sweetdruppeltjies wat uit pure ontsteltenis op sy voorhoof pêrel met haar sakdoekie weg te pik. Sy vlei haarself skatlik aan hom en straal hom liefderyk aan.)

Yuri (staar haar nors aan): "Moenie dink jy kan my rond shunt asof ek jou boy is nie, hoor jy!"

(Hy is so kwaad dat hy haar amper in die oog spoeg, maar bedink hom net betyds. Sir Sabelswaaier van Donnerskim-Sjina gee Yuri net een kyk en duik hom van sy voete af.)

Sir Sabelswaaier: "%&$§%%! Jou fokken twit. Moet jy ook alewig in die blêddie pad wees?"

(Jan Rap is nog steeds oortuig dat SA die k@kste plek op aarde is. Hy sit op die SêNet-stoep en tuur in die Verlore Land Vlaktes terwyl hy aan ernstig geknelde land-gedagtes pruim. Francois kyk hom erg betigtend aan en staan na sy kant toe. Hy pof homself op in sy bullebak houding.)

Sir Fransie Williams (terwyl hy die sabel uit die skede ruk en Jan Rap woedend aanblik): "Fok jou! SA is die beste plek op aarde. Dis nog beter as Angus se ateïstiese hemel. Die Suid-Afrikaans-Sjinese Brics sal jou nog wys wat se lugkastele ten hemele kan verrys. Staan jou man!"

(Sir Sabelswaaier trek sy digte swart wenkbroue eng saam oor die brug van sy neus en laat die vonke gloeiend uit sy oë spat.)

Jan Rap (sidderend in die aangesig van die ninja-pose van Sir Sabelswaaier): "Nee, Francois, bedaar net eers jong ... "

(Jan Rap is bleek om die kiewe en deins terug op die stoep. Hy sien nie die stoel agter hom nie, en val oor dit. Hy probeer vervaard op die bene kom en kyk pleitend na Williams.)

Jan Rap: " Kan ons nie meer beskaafd oor die saak ’n paar gedagtetjies wissel nie? Jy weet, eintlik hou ek vreeslik baie van SA. Veral van al die braaivleis en bier en die lekker lewe hier ... Dis amper soos die spreekwoordelike vleispotte van Egipte. Jy't seker nog nie my splinternuwe BMW gesien nie? Met Anton B gaan dit net so voor die wind. Hy't ook so pas al weer ’n nuwe BMW uitgetrek. Ons lewe so vreeslik lekker hier. Wil jy nie tog oorweeg om terug kom SA toe nie? Ek hoor juis dat die BEE terugkeer-highways met goud plavei word. Waar's jou patriotiese vaderlandsliefde nou eintlik? Of is jou bek vol maar net vol terwyl jou mond eintlik leeg is?"

(Jan Rap streel sy baard genoeglik en kyk selfvoldaan na Sir Sabelswaaier terwyl hy die vernietigende onderstelling laat insink. Boer in Beton staan ondersteunend nader en kyk dreigend na Williams. Sir Sabelswaaier se selfvoldane smalende gryns versteen op sy gesig en dan verdwyn hy met ’n na swaelstinkende plof van die toneel.)

(Kobus het intussen sy kans vir ’n love affair gevat en hy sy arm om Geitjie se skouers gevou terwyl hy ’n innige tongkus met haar deel. Die SêNet-Koor onder leiding van Cornelius Henn begin saggies in die agtergrond "Let It Be" neurie. Die volmaan kom stadig op.)

Geitjie (met ’n sagte steun): "O Kobus ... "

(Net toe verskyn Erika op die toneel en betrag die openbare vryery diep geskok.)

Erika (wat heimlik verlief is op Kobus, maar dit nooit sal toegee nie): "Kobus, skaam jou! Jy was nou net by die pous en kyk net hoe sondig jy al weer! Ek is diep teleurgesteld in jou morele verval ... "

(Papkop, ’n befaamde regisseur, se sin vir die dramatiese is dadelik gewek. Sy oë begin glinster terwyl herinneringe aan die glorieryke tye met vol sale en applous voor sy geestesoog opduik en ’n nuwe toekoms glinsterend laat straal. Hy hou die verdere verloop van sake geamuseerd dop terwyl hy vlytig notas maak vir sy nuwe sepie. Pouveer klim solank in die sigaar terwyl sy wag dat die nuwe ekspedisie in die onbekende dieptes van die heelal ontvou.)

Allerskattigste groetetjies,

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top