Die opskrif van my brief het ek geleen by Johan Bakkes uit sy boekie met dieselfde titel. Dis die woorde wat hy geuiter het toe hy iewers in Afrika aan 'n yskoue plaaslike bier gesit en teug het: "Hier sit ons nou, moer toe die vreemde in". Hopelik sal ek dit ook later dié jaar kan sê as ek in Timboektoe aan 'n biertjie suie.
2010 Gaan inderdaad vir die Thomasse 'n wonderlike jaar wees. Na onderhandelinge met my studieleier en die universiteit het ek die groen lig gekry om hierdie jaar bietjie uit te sit wat die akademie aanbetref en 'n lang gekoesterde ideaal na te streef - om rondom Afrika met Bismarck (ons Land Cruiser) te ry.
Nadat ons verlede jaar na die Serengeti gereis het, en ons besef het watter wonderlike plek Afrika is, het ons aanvanklik besluit om die Kaap-na-Kaïro tog aan te pak. Hoe verder die navorsing gevorder het, het ons besef dat daar ander plekke ook is wat ons wil sien (soos Timboektoe byvoorbeeld) wat ons ook móét sien en het die idee van 'n Kaap-na-Kaïro-en-terug begin posvat. Ons het besef dat 'n alleen tog moontlik was maar waarskynlik nie gewens is nie. Ons toerleier na die Serengeti het ons voorgestel aan 'n persoon in Louis Trichardt en siedaar - 'n geselskap bestaande uit 5 voertuie kom in April in Louis Trichardt bymekaar en vertrek op 'n 7 maande lange tog.
Ons roete gaan ons neem deur Botswana, Namibië, Angola, Kongo, Gaboen, Kameroen, Nigerië, Niger, Mali, Mauritanië, Wes-Sahara en uiteindelik Marokko. Van Marokko haal ons 'n veerboot na Spanje waarna ons deur Frankryk en Italië reis. In Italië haal ons weer 'n veerboot na Griekeland en dan reis ons deur Turkye, Sirië en Jordanië tot in Egipte. Van Egipte kom ons langs die oostekant van Afrika af deur Soedan, Ethiopië, Kenia, Tanzanië, Zambië en Botswana tot weer terug in Suid-Afrika.
Op die oomblik is ons besig met die inrig van ons voertuig en beplan ons 'n proeflopie saam met vriende in Maart deur die Baviaanskloof.
Hieronder is foto's van Bismarck soos wat hy sonder sy dakrak en daktent lyk.

Ons sien baie uit na ons avontuur en hoop om julle op hoogte te hou van ons vordering.
Groetnis,
Thomas


