Bokomo-brekfisbrief; 21/01/09: Krismisvark

  • 0

 

 

Vader Krismis het my plaas toe mos heeltemal misgery. Die mislike vet bliksem het seker op SêNet gelees wat ek van hom dink. Of dalk was dit net dat sy takbokke ook nie vir die plaaspad wat Raubex se lorries so uitry, kans gesien het nie. Ek weet nie hoe lyk dit as ’n slee ’n shock gebreek het nie, maar dit moet ’n taamlike gemors wees as Rudolph ’n been breek.

Nee, die plaaspaaie is nou so erg dat ek een size kleiner bra dra om nie my ruggraat te ontwrig nie. Moes al twee maal verlede jaar gaan vir nuwe krone, nie oor die bra nie, maar oor die slaggate. Die laaste keer so net voor Krismis moes hulle ’n speleoloog vra om na my te soek nadat ek vir ’n lorrie uitgeswaai het.

Ek was net goed opdreef na Krismis toe toe byt ’n vark my. Ja wragtag, ’n yslike hap hier net agter die regterknie. As jy skielik ’n volwasse potbelly persent kry, kamma vir Krismis, moet jy weet dat daar ’n goeie rede voor is. Napoleon loop en og-og vir almal en toe begin hy dek. Die trappe, die trekker se wiel, die windhond, die Jack Russell en die gaste. Soos ek nou maar is, leef en laat leef, elke diertjie het sy plesiertjie, besluit ek in my onnoselheid dat vark se kind net sy eie sog nodig het om vrede op die werf te bring. Ek bring vir Marié Antoinette met groot omhaal agter in die Modus op die plaaswerf aan. Ons het begin met die sog in die kattebak, maar vyf kilometer verder druk sy die agterste sitplek vorentoe en sit toe die wêreld en bekyk soos Dana Snyman maar wens om te kyk vir ’n nuwe reisartikel of twee.

Die aap by wie ek haar gekoop het, het haar oorskiet beet gevoer vir brekfis. Sy blerts op my seat en omdat die Modus se regulator van die vensters wat kon oopmaak, befoeter is na ’n halfwas kaping, gaan ek op ’n varkmistrip voor ek ’n plek kry om af te trek. Ek braak langs Oom Charl Hertzog se plaasheining dat sy saalperde bleek word om die kiewe.

Napoleon is dankbaar bly en dek vir Marié, my inkopies in ’n Spar-sak, my mediese tas en die Jack Russell voordat ek my sitplek skoongewas het.

Of dit die liefde was of soos oorlede Ouma altyd gesê het, skone katterjaansgeid, dit weet ek nou nie, maar Napoleon begin so skeef loop soos ’n Modus met ’n gebreekte shock, rys sy nekhare soos ’n kwaaihond en grom hier diep uit sy keel. Pure tiekie horrorfliek. En toe begin die bliksem byt. Kyk, dis snaaks as dit nie jy is wat gebyt word nie. Enige grootmens wat voor ’n dertig sentimeter hoë rondvetvarkie uithol is snaaks.

Kom ek skemerdonker terug van die werk af, moeg gesukkel en diep ingedagte oor my finansiële sakies, dink ek nou nie aan Napoleon nie. Teen die tyd wat ek die dreigende grom hoor, peul hy al onder my kar uit en byt my aan my been.

Ek het oorweeg om hom te spit maar tot dusver kon niemand op die plaas hom inhardloop en vang nie. As iemand van julle daai dik bliksem in die rooi suite sien, sê hom hy moet my enigste Krismisboks asseblief kom oplaai. Voor ek moeilikheid kry met die SPCA.

Douwlina du Plessis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top