Bokomo-brekfisbrief; 20/12/2010: Men are from Mars ... the god of war?

  • 0

Jisou, hoekom is mans so kompeterend? Alles ontaard altyd in ’n kompetisie. Ek kan nog soort van verstaan met die sport. Die hele doel daarvan, sovêr ek kan aflei, is om te check wie die vinnigste, grootste, sterkste, slimste is (hoewel ek dit flippen skreeusnaaks vind dat mense om ’n baan hol om te sien wie doen dit die vinnigste). Maar ek het nou na ’n paar jaar met net mans vir geselskap gesien hierdie wen-ding is eintlik nie net as hulle ’n bal vashou of hol nie.

Moes sommer vroeg-vroeg al leer om bitter vinnig te verdwyn as die Monopoly of kaarte ook uitkom. Dit hou ure en ure aan en hulle raak heeltemal berserk en ongeskik, skoon bloeddorstig. Selfs my kleinste liefste getrouste baby ontaard blitsig in ’n monster nes daardie dice begin rol.

En moenie dink Pappa laat hulle (of vir my, for that matter) nou en dan wen oor hulle kleiner of swakker of wat ook al is nie. Nee, hy is die ergste van die lot. Moet ten alle koste wen selfs al speel ons Name, vanne, diere, dorpe en lande.

Nou het ons die naweek ’n gekuier by vriende. Die gasheer verjaar en daar is baie mense. Die mans kuier om die nuwe kroegtoonbank, gesels net krieket en gholf en ekonomie en ozone. Vrolik en luidrugtig. Die vrouens sit om die tafel en chips eet, bespreek die vakansie wat voorlê, wie se ousie wanneer met verlof gaan. Die musiek speel al ons eighty-favourites, die kinders hol baldadig buite rond. Die Kersliggies flikker, die vuurtjie knetter, dis besig. Net toe die vrouens breedvoerig begin uitbrei oor die afgelope eksamen vlug en ek my een tjommie na die dartboard doer in die hoekie. Dis nogal uit sig. Ons het stilletjies verdwyn. Sommer lus gehad vir ’n bietjie pret op ons eie – ek kan nie so sit en tjollies praat nie en as ek my hierdie keer weer wangedra op die toonbank is die kans op enkelouerskap in 2011 baie goed – Abba of te not.

Nou laat ek net vinnig hier noem dat ek links en heel onhandig is. Ek kan niks met ’n bal doen nie. Ek weet nie of die onsportief weens die onhandig of die lack of competitiveness is nie maar ek doen nie die groepsport-ding nie. Ek hou ook net van onkonvensionele sport. Ek kan klein bietjie hardloop en klein-klein bietjie ski (en somehow beter op water as op sneeu) maar sodra daar ’n tool in die hande ook kom of ons moet kyk wie kan wen, loop alles skeef. So die darts was genuine net vir pret en oor daar nie ’n mic was nie.

Ons twee het sommer so sonder dink of konsentreer so ’n entjie weggestaan van die bord, gemik en gegooi, tussenin gelag en gespot met mekaar. Toe gooi ek ’n bull’s eye. Genuine, net so ... poef! Sonder dink of probeer. Was vir my ook ’n verstommende verrassing. Moes self nader gaan kyk om seker te maak ek sien wat ek sien. Het dit, tot my eie verbasing, met waardige nederigheid hanteer, nou nie die Raka uitgehaal nie. Geensins my uitsonderlike en verborge mik-vermoëns aan die hele buurt uitbasuin nie. Maar skielik is dit dood-doodstil om daardie kroegtoonbank. Nie die vrouens nie, hulle wis van niks, praat nog een stryk deur. Boeta se maats wat begin rook het en Sussa se wiskunde-meneer wat so vrot is. Maar elke man daar staar my en my pyltjie ongelowig aan. Nie bewondering nie, ongeloof. Stap nader om te kom seker maak. Nee, sê een van die manne, ek het te naby gestaan. Gee ’n geamuseerde laggie. Hy kom tree my nuwe plek af, vol jokes. Stap terug toonbank toe, brom onderlangs goeters vir die ander, hulle lag uitbundig, kuier verder. Tjommie gooi weer, ek gooi weer. Een net buite die rooi ogie. Twee bull’s eyes.

Doodstil by die mans. Gluur my onseker aan. Stap nader om seker te maak. Nee, sê die gasheer, hy sien nou dit is al die tyd die verkeerde pyltjies waarmee ek gooi. Hy gaan haal gou die regtes. Hy stap weg, die ander kruip al nader. Reg, so nou is my en my tjommie se game nie meer ons game nie. En nie meer ’n game nie.

Kom hy met ander pyltjies daar aan. Treë weer my staanplek af, maak ’n streep op die vloer net vir ingeval ek dalk van plan was om twee sentimeter te kroek net as hy wegkyk. Die ander mans ’n wye kringetjie om ons. Hou ons gespanne dop. Tjommie gooi weer, ek gooi weer. En nou staan almal en kyk. Tot die vrouens het vergeet van hulle chips. Ek gooi. Twee effens uit. Een bull’s eye.

Wag, sê die gasheer, ek MOET nou eers my oorwinning met ’n ietsie uit die springbokhorinkie vier en die oorwinningsdans op die toonbank uithaal (einste horinkie wat my laas drie dae lank voor die toilet laat slaap het). Sonder seremonie word ek op die toonbank getel, horing in die hand gestop. Ek moet down en dans. Ek keer, hulle hits aan. Ek moet drink, dis tradisie en dan gaan een van die manne my challenge. Ek keer, hulle hits aan. Ek drink, ek dans, ek word terug gesleep, ek mik, ek gooi ... Twee teen die muur. Een bull’s eye.

Right, sê die gasheer, alle grappies weg uit die stem, hy challenge my nou, sit hardhandig sy whiskeyglas neer. Hy haal ander pyle uit sy toonbank se laai. In so ’n kassie. Kom met ’n verbete trek om die mond nader gestap. Ernstig en gefokus.

Ek maak verbouereerd vir hom plek. Senuagtig oor almal nou skielik so kwaai lyk. Toe my aanvaller so halfpad op pad is, roep my man doer van anderkant, hy sal sommer namens my die challenge opneem.

Vinnig en afgehaal gee ons pad.

En skielik is al die mans om die dart board. Dis ’n verbete stryd met name calling en ongeskikthede en syfers wat opgeskryf word. Verskillende spanne en weddenskappe en elke ding.

Toe kuier ek en my tjommie en Abba maar alleen om die kaal, stil toonbank. Daardie game het vir ure en ure aangehou. Ure. My seuns kry ’n dartboard vir Kersfees.

pikanese

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top