Bokomo-brekfisbrief; 20/10/09: Boeke, nav Webvoet

  • 1

Daar is mos maar net iets aan 'n boek. Dalk is dit die geheimenis wat weggesteek word so tussen die twee omslae. Ek wetie. As ek by mense aankom kyk ek altyd eers of daar boeke is. Dikwels is die naaste wat sommige huishoudings aan 'n boek kom die gesinstydskrif voor die TV. En ek wonder of boeke dan regtig so duur is?

Nie noodwendig nie, want ek het al uiters waardevolle werke op straat, agterin pantjieswinkels, of sommer in mense se motorhuise raakgeloop. Soos my eerste uitgawe Langenhoven Versamelde Werke wat ek vir minder as 'n honderd rand by 'n stalletjie hier in my dorp raakgeloop het. Na die transaksie beklink is het ek vir die tannies beduie dat ek 'n paar honderd rand vir elke enkele werk sou opdok. Hulle het net skouers opgetrek, want ek dink dat hulle tot vandag toe nie die waarde van sulke werke kan besef nie.

Destyds het Pretoria se pandjieswinkels my goed geken en my sommer in hul store laat ingaan om heeldag te snuffel en te soek. So het ek uiters skaars en waardevolle en heelparty eerste uitgawes opgespoor: Churchill se History of the English speaking peoples, B Franklin se biografie, 'n Byron, Kruger se memoirs, 'n hele paar Conan Doyles en logies 'n hele paar ou Asterix-uitgawes. Om bloot net 'n paar te noem. So het ek my Keurboslaan-, Jasper- en Uile-reekse volledig in pandjieswinkels opgespoor.

By geleentheid hoor ek van 'n ou omie wat sy gereedskap wou verkoop en met my aankoms sien ek in sy boekrak 'n paar reekse boeke wat my duiselig gelaat het: History of Scotland, History of England (beide reekse uitgegee +- 1891) en nog boeke wat geld nie kan koop nie. Mens vat mos maar so saggies aan 'n ou boek, maar toe ek die eerste van History of Scotland oopslaan sien ek hier is groot fout: Al die "foto's" (eintlik mos maar litografiese sketse of iets soortgelyk) is uitgeskeur. Oopbek en half stom van skok vra ek toe die ou wat en hoe nou, whatthehell (hy was Ingels)? Nee, beduie hy my, hulle is besig om 'n kis te maak en het die "prente" nodig gehad om op die kis te plak. Om dit "outentiek" (!!!!!) te laat lyk. Ek kon die res genadiglik red van mishandeling, al het dit my 'n hele paar Oregon-balke gekos. Einste Oregon-balke het ek toevallig gered toe ons siek munisipaliteit besluit het om een van die oudste klipgeboue in Mosselbaai af te breek om plek te maak vir 'n parkeerterrein wat ironies genoeg steeds leeg staan.

Die toppunt van ironie? Ek het my eie balke wat ek lank moes "afbarter" (cash is king, but barter is smarter, onthou) later geruil met einste omie vir 'n Ford Eskort enjin. Uiteindelik het ek met 'n boekrak vol waardevolle boeke, my eie Oregon balke en 'n kis vol ou skawe en ander houtwerkgereedskap gesit vir die prys van 'n Ford Eskort enjin en 'n paar randnote.

Uit beginsel lees ek nie 'n boek as dit nie myne is nie. 'n Biblioteek is 'n wonderlike plek, maar beslis nie vir my nie. Ek kan nie 'n boek leen om te loop lees om hom later terug te gee nie. Daar is boeke wat so 'n impak op mens gehad het en het dat net een eenvoudig nie genoeg is nie. Jy koop nog en nog al het jy alreeds vier of vyf. Ek sal verkieslik nie in besonderhede ingaan hier nie om logiese redes, behalwe om te sê dat ek al soveel Summer of Katya's en enkele ander het dat plek begin skaars raak. Jy koop dikwels om vir iemand 'n boek wat op jou 'n besonderse impak gehad het as geskenk te gee. Ironies genoeg loop ek toevallig A tale of two cities in 'n pandjieswinkel in Pretoria raak en toe ek die boek oopmaak sien ek dat dit einste boek is wat ek aan 'n persoon gegee het met mooi boodskappie en al binne in. Die sot het tien teen een net die eerste paragraaf gelees en toe loop verkwansel vir 'n rand of twee. Nodeloos om te sê, al sou die persoon my bel om te se hy/sy is in die moeilikheid sal ek maak of ek hom/haar nie ken nie.

oester

 

  • 1

Kommentaar

  • Judie Rossouw

    Goeie more. Kan u vir my sê of u ander tweedehandse produkte aanhou. Ek het 'n pa wat hiperaktief is en net effens kan sien, of hou u net boeke aan?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top