Bokomo-brekfisbrief; 20/09/2010: Die vleispotte van Egipte is heerlik maar tog so hittig!

  • 0

Ons het nou gevorder tot by Aswan in die suide van Egipte.

Ons gaan tuis in die Sara Hotel op die oewers van die Nyl, waar die eerste stroomversnelling in die Nyl voorkom. Die temperature is in die veertigs en ons verkies dit om eerder in ’n lugversorgde kamer te bly as om te kamp, aangesien ons ’n paar dae lank hier moet bly.

Van Sharm El Sheikh af het ons onder deur die Suez kanaal na Kaïro gery. Die sekuriteit by die Suez-kanaal is geweldig streng en geen foto’s word toegelaat nie wat natuurlik veroorsaak dat dit ’n uitdaging raak om wel foto’s te neem! Hieronder is twee steelfoto’s wat geneem is net toe ons die ingang van die tonnel onderdeur die kanaal genader het. Die eerste een toon ’n houerskip wat bokant ons verbybeweeg – dit lyk behoorlik of die houers oor die woestynsand gly. Die tweede wys die ingang na die die tonnel onder die kanaal – slegs ’n enkele meter of twee onder die bodem van die kanaal!  

In Kaïro aangekom het ons in Giza, baie naby die piramides, in ’n hotel gaan bly nadat die versengende hitte in die kampplek ons oortuig het dat die hoteltariewe heel billik is. Ons moes visums vir Soedan en Ethiopië kry en sou dus ’n paar dae moes oorbly. Die volgende dag verneem ons toe dat dit die einde van Ramadan is en dat dit groot feesviertyd in Egipte is en dat die ambassades dus gesluit sal wees. Hulle deel ons toe mee dat ons wel ’n visum vir Soedan in Aswan kan kry en ’n visum vir Ethiopië in Khartoum. Ons doen toe maar die gewone ding wat toeriste doen in Kaïro en  besoek die piramides en die sfinks – en dit nogal op die rug van ‘’n kameel! Ek het darem geleentheid gekry om ’n pet by die Hard Rock Cafe in Kaïro te koop om by my versameling te voeg wat nou al mooi lyf begin kry.

Van Kaïro is ons na Alexandrië om die beroemde biblioteek te besoek. Daar aangekom word ons meegedeel dat die biblioteek vir 3 dae gesluit is as gevolg van die feestyd.

Ons ry toe maar na El Alamein om te gaan kyk na die begraafplaas van die Suid-Afrikaners wat is die slag van El Alamein omgekom het. Daar is ’n klein oorlogsmuseum met beskrywings in Egiptiese Engels (baie soos Suid-Afrikaanse Engels net heelwat swakker). Die begraafplaas word pragtig in stand gehou en het ons tussen die grafte van Botha’s, Jordaans en van den Heevers deurgeloop.

Ons het die aand by ’n spoggerige oord langs die Mediterreense see geslaap waar die see die mees ongelooflike blou kleur het. Die volgende oggend het ons deur die Sahara woestyn na Luxor begin ry. Daar is ’n gedeelte van die woestyn wat met swart klippies bedek is en staan as die “swart woestyn” bekend.

Naby die dorpie Farafra waar ons oornag het, is ’n gedeelte van die woestyn waar die mooiste wit kalksteen gesteentes te sien is wat weer as die “wit woestyn” bekend staan. Dit lyk behoorlik soos sneeu wat op die grond lê.

Die volgende dag het ons die eensame en winderige pad deur die woestyn na Luxor aangepak.

Ons padkaart bevat beperkte roetes deur die woestyn. Die GPS met Tracks4Africa is bloot ‘n hulpmiddel. Dus moes ons maar gereeld van die baie duidelike padtekens gebruik maak om te besluit watter roete ons moet volg!

In Luxor het ons die bekende Karnak tempelkompleks besoek met sy majestueuse beelde en pilare.

Ons het die Luxor tempel die aand besoek omdat dit eenvoudig te warm was en ons nie krag gehad het om dit ook gedurende die dag te besoek nie.

Ons het die volgende dag die Vallei van die Konings besoek waar ons die goed gepreserveerde graf van Tutankhamen (teen ’n ekstra betaling van R 125 per persoon!) kon besigtig. In die graf word die mummie van Tutankhamen uitgestal wat ’n besondere gesig was om te sien. ’n Mens mag nie eers ’n kamera inneem in die Vallei van die Konings nie en ’n steelfoto was dus nie eers moontlik nie. Die besoek aan die tempel van Hatshepsut, een van die min vroulike konings van Egipte was besonder en ons kon darem daar ’n paar foto’s neem.

Van Luxor het ons na Aswan gereis waar ons die veerboot na Wadi Halfa in Soedan gaan haal. Daar is geen ander manier om in Soedan te kom as via die veerboot nie. Daar is nie ’n pad of ’n funksionerende grenspos tussen Egipte en Soedan nie omdat invloedryke mense in die Egiptiese regering die veerboot wat tussen Aswan en Wadi Halfa ry besit! Ons voertuie word Saterdag of Sondag op ’n groterige vlot (“barge”) gelaai en ons vertrek Maandag met ’n passasiersboot na Wadi Halfa. Hierdie boot is al deur vorige reisigers die “ferry from hell” gedoop omdat dit verstikkend warm is, feitlik geen geriewe het nie en tot barstens toe gelaai word. Daar is wel ’n paar lugversorgde kajuite op die boot en aangesien dit ’n 26-uur lange rit is, het ons probeer om kajuite te kry maar dit was reeds volbespreek toe ons hier aankom. Na ons in Wadi Halfa aankom moet ons nog ’n dag of twee vir die voertuie wag. Hier styg die kwik klaarblyklik maklik tot 50 grade en is daar glo geen behoorlike verblyf beskikbaar nie. Ons beplan om op die erf van een van die kontakte van een van ons toerlede in Wadi Halfa te plak en maar in die skaduwees te lê en sweet en wag.

Ons sien dus nou nie juis uit na die tydjie wat voorlê nie maar dis ’n dal van doodskaduwee waardeur ons nou maar noodgewonge moet worstel – Afrika is mos nie vir sissies nie!

Wanneer ons weer met ons voertuie herenig is, gaan ons so gou moontlik na Khartoum ry om visums vir Ethiopië te kry. Ons hoop om daar weer internetverbinding te hê en sal ons probeer om foto’s van die rit op die veerboot van hel deur te stuur.

Groetnis,

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top