Bokomo-brekfisbrief; 20/09/09: Vergeet van die lotto!

  • 0

Meeste van ons probeer seker maar so dan en wan, om die ontwykende lotto te wen. Maar vandag het ek (myns insiens) die boeke-lotto gewen. Toevalligheid was die oorsaak dat die geluk by my kom draai maak het. Moenie verbaas wees as ek dalk nie baie skryf op die werf in die volgende paar eeue nie! Ek sal moet lees en nogmaals lees aan die klomp boeke wat ek ontdek het.

‘n Ou plaasskooltjie wat toegemaak het ‘n klompie jare gelede, het ‘n hele klomp karton-bokse agter gelaat toe hul getrek het. Die opdrag aan my was om te vat wat bruikbaar was en van die res ontslae te raak. Maar wie stel nou belang in ‘n klomp skoolboeke, met vanaf Graad 1 tot Standerd 5 se sillabusse? Die klomp bokse is dus toe maar gestoor - tot nou toe. Vanoggend, om een of ander rede, besluit ek om een van die bokse uit te pak en moet bieg - ek was eintlik net op soek na ‘n groterige boks vir ‘n verpakking.

Onder die boonste lagie ou skoolboeke wag daar toe ‘n verrassing vir my - ou boeke van alle soorte en tye. Een na die ander boks wat ek oopmaak is daar van die ou boeke onder die skoolboekies versteek. Ek noem gou ‘n paar van die titels - net vir die interessantheid.

The Moneyman - 1948
My Cousin Rachel - 1954
Fighting Angel - 1937 Men, Woman and Guns - (datum onleesbaar - lyk soos 1918)
The Climax - 1944
Let the day perish - 1952

Dan is daar nog baie ander oor met Plato, Crito, Socrates, Epictetus en Marcus Aurelius Antoninus wat - vir my wat maar ‘n leek is op die gebied - nog heelwat ouer lyk.

Maar wag, ek moet groet, daar is nog baie boeke wat uitgepak moet word! Praat van ‘n "verkleurmannetjie op ‘n smartie-box"! Ek kan nie vinnig genoeg die voorwoorde lees om te sien waaroor elkeen gaan nie. Vergeet van die lotto - hierdie gelukkie is baie meer waardevol!

Groetnis tot later,

Neels (Husky) Visser

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top