Bokomo-brekfisbrief; 20/08/2010: Ou HJ, twee perskes en 'n geel onderbroek

  • 0

Nou kyk, hierdie storie gaan oor "Ou HJ". My Pa. Daar is ‘n paar HJ’s. Ou HJ, Groot HJ, Klein HJ, Skelm HJ, en so meer. Ek is "Groot HJ", nie omdat ek groot van formaat of omvang is nie maar omdat ek jonger as Ou HJ is en ouer as klein HJ. Ek dog ek sê maar net. In myse voorgeslagte is daar nog baaie HJ’s. Meeste van wie ons liewers nie praat nie.

Ou HJ is sy lewe lank 'n passievolle mens. Vol vreugde en humor. Op aggentagtig woes werksaam in sy tuin.

Sy tuin is vir hom belangrik. Dis nou nie net 'n blommetjietuin nie maar deurspek met groente en kosdraende plante van vele spesies.

So plant hy vir hom 'n perskeboom. Want sien Ou HJ kom uit perskewêreld. As kind nou. En hy onthou sy pa, Grootjie HJ, se perskevrinne. Om nie eens van Ou Ou HJ te praat nie. Die perskeding loop dus in ons gene in. Ter wille van duidelikheid moet ek meld dat ek die geen verloor het. Van my ma se kant het ander gene uitgepeul. Pap en ertappelgene. Die perskevrinne is die wat sodra die perskeseisoen aanbreek, kom kuier. Saterdae moet hy en sy broers en susters  kartonkardoese perskes gaan pluk want Sondae kom die perskevrinne kuier.

Na so 'n wyle van koffie en beskuite en so draai die gesprek...

“... En het julle reent gehad Ou HJ?” (Die ou bliksem weet goed dat die perskereent 'n goeie veertien dae lank geval het.)
“Ja, Gert goeie reent.”
“Jou perskes lyk seker goed of hoe?”
“Jaa Gert, die perskes lyk mooi.”
“Ag, maar ek is bly ou HJ, 'n mooi perske is tog so mooi en proe mos soos hunning of wat seg ek nou …”
“Jaa Gert. Kan ek vir jou 'n kartonkardoes perskes pluk? So 'n paar om saam te vat.”
“Jene ou HJ dit sal gaaf wees ek wil nou nie lastig wees en as dit nou nie moooeite is nie.”
“Dis nie moeite nie Gert. HJ! Bring 'n kardoes perskes vir oom Gert.”

En so kom kuier die perskevrinne en elk kry sy perskekardoes. Verdwyn hulle.
Tot die volgende seisoen.

Dit net ter agtergrond.

Ou HJ het sy boom geplant en die ding groei mooi. Die wêreld waar Ou HJ nou bly is nie juis goeie perskewêreld nie maar met die nodige sorg en liefde groei die boompie en baar mettertyd haar eerste twee pragtige perskes. Groot, bolrond en bloesend soos ‘n bruid.

Word ek die aand wakker en hoor die donderweer steek op. En erger nog daar is so ‘n ysreuk aan die osoon. Hier kom ‘n ding. Ook nie lank nie of die eerste vuisgrootte hale donder lui-lui neer. Klink soos bakstene wat die Bowe na al die sondigheid hier op aarde neergooi. Ou HJ hol die gang af met ‘n sambreel in die hand en net ‘n geel onderbroek aan.

Storm by die deur uit en gaan sit op sy hurke voor sy perskeboom. Die sambreel beskermend oor die twee perskes. Elke nou en dan piets ‘n haelkorrel verby die stukkie lap en tref hom op sy geelonderbroekboud wat teikengewys by die sambreel verbysteek.

Met elke tref van sy boud hoor ons hom swets “hiert jou bliksem!” Dan skuif hy syse geelboude meer na binne maar dit help niks … die volgende korrel tref!

Ou HJ. Laat niemand vertel dat hy nie syse verantwoordelikhede kan beskerm nie. So koes Ou HJ die volgende uur by sy perskeboom met elke nou en dan ‘n, “hiert! jou bleddie wetter!” en “einaa! jou saatang!”.

Sy perskes is veilig.

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top