‘n Vriendin van my het onlangs hierdie pragtige gedig geskryf oor ‘n ma en seun. Omdat dit so mooi is en elkeen met volwasse kinders daarmee kan identifiseer, het ek haar toestemming afgebedel om dit hier te laat plaas. Mag daar nog vele gedigte uit haar pen voortvloei wat sy vorentoe met ons sal deel.
Groete
Douwleen Bredenhann
* * *
MAGTELOOS
Wat sê ek vir jou
Wat hier op ‘n motorfiets
Aangery kom om my
Wat geen antwoorde het nie,
Te kom vra na raad.
Ek ken die vrees vir mislukking
En wonder of ek jou nie met
My eie vrese besmet het
Lank voor jy nog probleme
Gehad het nie.
Wat sê ek vir jou anders
As dat ek jou ontsettend liefhet,
Dat my hart wil breek
As ek dink met hoeveel spoed
Jy die koue na my trotseer het.
En ek stuur jou weer terug
Met niks meer as die wete
Dat ek jou liefhet
En hier is om voor raad te vra.
Maar ek is nie orakel … net ma.
Mignon

