Die digter/joernalis Ka keer na jare terug na die dorp waar hy grootgeword het. Ka kom oënskynlik terug om 'n berig te skryf oor die epidemie van jong meisies wat selfmoord pleeg, maar hy wil ook graag weer met 'n ou liefde kontak maak. Kort na sy aankoms word die dorp deur 'n sneeustorm van die buitewêreld afgesny. In die mikrokosmos wat so ontstaan, speel daar in die daaropvolgende dae gebeure af wat tendense in die groter Turkye en wêreld weerspieël.
Die boek is Snow en die skrywer is Orhan Pamuk, wenner van die Nobelprys vir Letterkunde in 2006. Die katalis en groot morele vraagstuk waarom die meeste van die aksie in hierdie verhaal wentel, is Moslemvrouens se dra van die sluier. Die jong meisies pleeg selfmoord omdat die sekulêre owerheid hulle verbied om die sluier te dra. Ka is 'n ateïs wat gedwing word om weer sy vrydenkende waardes te heroorweeg. Die vroue in sy lewe, susters en beide godsdienstige fundamentaliste van verskillende skakerings, dra albei die sluier. In skrille kontras met hulle is die wulpse en wêreldse aktrise (en nie-sluierdraende) danseres wat gewoonlik as 'n verleidster met uitlokkende lae halse uitgebeeld word.
Pamuk se lessie is duidelik en relevant in ons tyd. 'n Onlangse uitgawe van Time kritiseer die Weste se obsessie met Islamitiese vroue se hooftooisels en moedig ons aan om hulle strewe na verandering te ondersteun. In die gedaante van die verbanning van sluiers dwing die Franse hul boodskap van vryheid, gelykheid en broederskap met mening op hul Moslemgemeenskap af.
Natuurlik het die Moslemvrou die volste reg om haar kultuur/godsdiens in die vorm van die dra van 'n sluier uit te leef. Net so is die jong Xhosa-seun se reg om deur wyser volwassenes iewers in die bos besny te word of 'n puber-meisie se reg om 'n bruid van koning Mswati te wees, kulturele regte en in ons tyd onaantasbaar en verhewe bo kritiek.
Moslems wêreldwyd verwag dat die land waarheen hulle - vrywilliglik - emigreer, sy kultuur sal omvorm om by hul eie te pas. Inderdaad 'n geval van die kulturele berg wat homself moeisaam na Mohammed voortsleep.
Die Europeër wat dit in miniromp en ontblote hoof en skouers in snikhete Arabië sou waag, kan seer sekerlik verwag om met dieselfde respek behandel te word.
Laat ek my vooroordele dus duidelik stel: Ek vind die "filosofie" agter die dra van die sluier afstootlik en grensend aan die barbaarse. Die man sluip rond soos 'n jagse Priapus, gereed om enige vrou wat meer as 'n kuise enkel ontbloot daar-en-dan te dek.
Verdraagsaamheid, die moderne seën/vloek van beskawing, word so maklik deur primitiewes met swakheid verwar.
Miskien is daar tog tye wanneer 'n mens eerder aan ander moet doen wat hulle graag aan jou sou wou doen.
Chigurh


