Bokomo-brekfisbrief; 20/07/08: Globale suigsiekte

  • 0

Daar is 'n nuwe virus, een wat elke mens se sentrale menswees affekteer, oorneem en permanente skade berokken. 'n Letsel van minderwaardigheid agterlaat. Suigsiekte. Die moderne siekte met ondertone van afgeleefde en verlore waardes.

Die lewe is 'n geveg tussen die voorste en die agterste speen. Wie suig waar en wanneer. Die hiërargie – wie is volgende om van agter na voor te mag beweeg. Wanneer dit mag gebeur. Daar is mense wat hulle hele lewe lank aan die agterste speen sal suig en nooit vorentoe beweeg nie. Maar meer as wat ons dink, suig baie al jare aan die voorste speen … te lank – word te vet en sterf 'n ongenaakbare publieke dood!

Die VSA suig aan die Ooste, die Ooste aan hulself. Die wêreld suig aan die olievelde, Oos aan Wes, Noord aan Suid … Ons Regering suig hul eie mense droog. Die bank suig ons geld, ons voertuie suig ons petrol. Die steenkool suig die lug en die land se liggies suig die krag. Ons kos suig die aarde se opbrengs. Maar ook gesamentlik suig ons mekaar tussendeur ook droog.

Geen mens kan meer net 'n normale lewe lei van werk toe en huis toe nie. Niemand kan meer sonder 'n weggesteekte heilige koei oorleef nie. Want ons het vergeet wat menswees is. Om dinge op ons eie te doen en sukses te bereik, hetsy as persoon, as gesin, as gemeenskap, as nasie, as land, as kontinent, as wêreld.

Jy kan nie meer 'n eerlike dag se werk doen sonder die koeie wat in jou pad kom staan nie. As jy dit doen, kry jy dat, as jy dat doen, kry jy dit, en as jy eerlik is, kry jy niks! Sielsuitmergelende staan almal in die unemployment line. Kry hulle 'n werk, is hulle in besigheid, en die geleentheid wat hulself bekendstel om meer te kry en meer te maak, staan soos 'n afgrond en 'n berg tegelyk voor hulle. Daar is net geen gelyke pad meer beskikbaar nie. Die verlede het dit omgedolwe en onbegaanbaar gemaak. Die lewe gaan oor geld en status. Daar is nie meer plek vir gewone mense met waardes, drome, toekomsplanne, rigting, standvastigheid, eerlikheid en lojaliteit nie. Dit gaan oor die gejaag na die drinkplek, nie meer oor die drinkplek nie.

Ek vir een is moeg gesuig en moeg om gesuig te word, ongeag enige koei se speen, voor of agter! My wens is 'n stadige, uitmergelende maar gewisse dood van alle korrupte heilige koeie! Laat ons weer opregte, eerlike, hardwerkende mense word en hierdie virus wat suigsiekte veroorsaak stuit.

Ek lewe eerder van water en bruinbrood as om suurmelk oor my kaviaar te kry. Ek verklaar dus hiermee myself suigloos en amptelik taktloos onverdraagsaam!

Groetnis.

Sue

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top