Vanjaar het daar nou al plante vir 'n wyle gegil toe Madame Deneuve hulle gevra het of hulle geëet wil word. Hulle het luidkeels protesteer, en toe het sy die blommetjies gevat en 'n kroontjie gevleg vir die varkies wat as bacon eindig.
Maar vandag voel ek lus om te gil. Sommer net wild en wakker te gil.
Ek het juis in Burgos 'n fantastiese uitstalling die Duitse kunstenaar Martin Assig oor gillende mense gesien. Drie honderd houtskoolsketse met gesigte op papier wat tevore in gesmelte was gedoop is. Dit het oor emosies gegaan wat mense gillend kon uitdruk.

Bron.
Ek het eenkeer op die Camino ook die onkeerbare lus gekry om te gil. Ek het sommer vir die lekkerte te midde van die wingerde van die Rioja 'n bietjie gegil. Dis was beslis nie so 'n estetiese gil soos dié van Assig nie, maar dit was jollie lekker. Die Spanjaarde wat so 'n ent voor my was, het wel vreeslik vervaard omgekyk, maar nadat ek vrolik gewaai het, is hulle kopskuddend verder. Dit was egter 'n vreeslike lekker gillery. Haai, shame, dalk het die wingerd van pure skrik ook, soos Katrien Deneuve se gillende plante, gegil.
Om te gil, is so lekker soos om in die swembad te spring. Dis 'n plesierige gillery wat ook sommer kan ontaard in 'n gejillery. Om te kan gil, doen iets wilds aan jou siel.
Maar vandag wil ek sommer uit pure frustrasie gil. GIL. GIL. GIL. Ek wil gil omdat ek iets moet doen wat ek haat om te doen.
Die bron van my onverkwiklike frustrasie is iets waarmee elke mens wat geld verdien, hom een keer per jaar moet kasty, en dis nie lekker nie. Jy sit en sorteer al die bleddie rekenings en kwitansies, tel dié kant toe op, pak daai klomp slippies bymekaar. Dan gaan maak jy tee. Of drink nog koffie. En teen sononder voel jy lus om jouself besimpeld aan alkohol oor te gee, as dit net sou help.
Ek stel die ou takie gewoonlik uit tot Jan Taks met sy ysige asem in my nek begin blaas, sy skrikmaak-oë op skrefies trek en kil na my kyk, terwyl hy met die sambok teen sy broekspyp piets. Dan bedel ek vir nog tyd. Ek dink een of ander voorwendsel uit - vreeslik baie werk, of so iets, om nog tyd te wen. Maar een of ander tyd moet 'n mens dan maar gaan sit en die dêm ding doen. My elektroniese dagboek begin my reeds 'n week voor ek die opgawe finaal moet afgee, herinner om dit te doen. En dan kyk ek nog twee dae vir die herinnering terwyl ek stoer my kop in 'n NEE skud en my lippe soos 'n dom-astrant kind saampers.
Eers as die joga-dag aanbreek, val ek maar weg om die duwweltjiesweg van my persoonlike Via Dolorosa te loop. En nou is dit nog twee ure voor joga, maar die dringende behoefte om te gil, oorval my nou. Ek skat dit moet 'n oerinstink wees om te gil terwyl mens jouself met 'n belastingopgawe kasty.
Dis meer vervelig as om te stryk. Dis muwwer as om in 'n grot se tonnels rond te kruip. Dis selfs erger as om oor 'n afgrond te kyk terwyl ekstreme hoogtevrees jou laat duisel. Ek sal sommer 'n hele botteltjie duiwelsdrek soos een van James Bond se beroemde cocktails uitdrink as ek net nie die belastingopgawe hoef te doen nie.
Een ding is seker: as ek nie nou uit volle bors gaan GIL nie, gaan ek dalk my polse sny.
GILLLLLLLLLLLLL!!!!!!!
'n Desperaat gillende
Pouveer
NS: Ek hoop julle het darem oorpluisies ingesit voordat julle gelees het.


