Bokomo-brekfisbrief; 20/06/08: Onse mense

  • 0

Yuri se brief oor die simpel APK-predikant van Kathu en sy skandelike optrede, het my ver en diep terug laat dink.

Ek was ʼn tjokker in die laerskool op Olifantshoek toe Pierre Fourie en Bob Foster destyds slaags was. Ou Popo, ons meneer, het gevra wie gaan wen, en almal behalwe ek het Fourie voorspel. Ek het destyds self geboks en het geweet dat Foster sou wen. Hy was langer, sterker en vinniger. Ek is as "kafferboetie" gebrandmerk, en tot vandag toe word ek deur sommige op dié dorpie as sodanig beskou. (Miskien het die feit dat Kleinjan Mathudi, as ek sy naam reg onthou, my beste vriend was en ek daarop aangedring het dat hy saam met my Kinderkrans, skool en Sondagskool toe gaan, iets daarmee te doen?!)

Dekades later het ek ʼn driejarige swart dogtertjie in my huis. Haar ma wil party en hoereer, en wou haar weggee aan ʼn swart man om "groot te maak", en toe vat ons haar, want haar ouma werk by ons, en ons weet hoe hy haar gaan "grootmaak". Elke oggend vat ek haar kleuterskool toe, waar sy en ʼn Indiër-dogtertjie die enigste nie-wittes is. Soveel oggende word ek nie terug gegroet nie, en kry doelbewuste vuil kyke oor die swart kind wat ek op hulle kiddies kom afdwing. Selfs die Indiërs is vir my die josie in!

Nou die lekker storie. Die pa wat my die meeste haat, se seuntjie is net so oud soos Sempiwe, en lyk nes sy stocky, bonkige pa. Staan ek en sy en wag vir die tannie om die veiligheidsdeur te kom oopsluit, toe dié spulletjie daar arriveer. "Hallo Sempiwe", gil die seuntjie toe hy haar sien, en voor sy met afgrys gevulde pa kan keer, gryp hy my dogtertjie en gee haar ʼn druk so uit sy hart. Had ek my kamera daar gehad om daardie pa se gesig af te neem!

As ons maar almal so oor kon begin soos die kleintjies, sou dit dalk beter gewees het. Sou ek nie soveel wrewel teenoor sekeres gehad het nie, soveel vooroordele nie. Was ek dalk meer soos Afrikaan as Blou Makou. Nou is ek in-between en op pad na nêrens.

Groetnis

Bobbejaanboer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top