So tussen die rooi son wat oor die Namib se woestynvloer sak, die lekker kameeldoringvuur wat knetter en 'n yskoue Suidwesbier in die hand, dan praat die manne mos stories wat hulle van doer ver se kant af gaan haal. Seg hierdie een ou oom met 'n glinster in sy oog dat sy plaas grens aan die Etosha-wildtuin doer noord van Outjo. Nou is dit so dat 'n leeu wat anderkant die draad sy blyplek het en hy doen 'window shopping' al teen die draad af en sien al die lekker sawwe, stadige beeste van die boer, dan kan hulle dit later nie meer inhou nie. Hulle moet daai vleisie gaan traai. Kry hulle 'n swak plek in die draad of 'n plek waar hulle onderdeur kan grou, dan doen hulle dit en dan is hulle in die paradys.
Vet bees wat nie so lekker kan weghol nie en die sports is groot.
Nie 'n gedagte aan die honger wat hulle in die eerste plek soontoe laat kom het nie. Terwyl hulle bloed warm is van die speel, byt hulle sommer nog so 'n hele paar van die bees dood .... ek meen darem nou, 'n jong leeu moet mos ook leer jag, of hoe?
Die oom het gaste by hom op die plaas gehad en hulle was besig om koedoes te soek om te jag vir biltong, toe hy op die dooie bees afkom waar die leeus partytjie gehou het. Synde dat hy darem al vir meer as 30 jaar daar boer, het hy dadelik geweet wat gebeur het en is hy reguit draad toe met die Cruiser-bakkie. By die eerste gat, toe vertel hy vir sy jagtersvriende dat hy 'n plan het met die leeus. Hy is seker daar is meer as een gat langs die draad af en wat hy nou gaan doen, is om by elke gat 'n man met sy geweer af te laai en dan gaan hy met die bakkie 'n draai in die veld ry en die leeus skrikmaak en hulle sal dan spring om terug in Etosha te kom en as hulle by die gate kom, dan skiet hulle die leeus vrek. Of dié manne al ooit leeu geskiet het, dié het hy nie eers oorweeg nie ....
So het die een ou by die eerste gat afgelaai en toe gery tot by die tweede gat en was net op punt om 'n ander man daar af te laai, toe hulle die leeus in die kaplyn se pad so 'n 100 m verder sien en hulle trek los en skiet die leeus al drie dood.
Geen drama, geen probleme nie.
Toe onthou hulle van die eerste ou en hy ry terug na waar hulle hom by die draad gelos het, maar die man is nie te siene nie. Nou begin hulle wonder of daar nie dalk 'n vierde leeu was waarvan hulle nie geweet het nie – waar is dié man dan?
Toe sien hulle hom so 'n 50 m verder uit 'n jong mopanieboom klim en verleë en skoorvoet nader gestap kom. Wat soek jy daar?, wou hy weet. Die ou reken toe dat toe hy daar in die veld by die gat in die draad staan, het die besef hom getref dat hy in sy kort lewe nog nooit eers na 'n leeu probeer korrel het nie, wat nog te sê van een probeer skiet? Hy't sy 303'tjie só gekyk en besluit dat dit ook maar effentjies van 'n geweer vir 'n leeu is.
Toe kyk hy die veld so terug en hier staan hy daar alleen by die gat met 'n spul wilde leeus wat hom dalk kan tjaarts, toe raak hy verskriklik eensaam en alleen op die ou aarde en besluit toe dat hy die alleengeid beter kan verwerk so effe weg van die grond af ... dié dat hy toe in die boompie geklim het! Lag die oom lekker as hy sê dat die verligting wat oor die ou se gesig gespoel het, duidelik sigbaar was toe hy vir hom vertel dat die leeus reeds vrek is!
Dan, vertel die manne, dat die Etosha nie altyd volledig draad tussen die plase en die wildtuin gehad het nie en dat leeus deel van die grensboer se daaglikse bestaan was. Leeujag vir hierdie manne was so algemeen soos rugby op Loftus vir die manne van Pretoria.
Nou vertel hierdie ou hulle het maar in die algemeen Bols-brandewyn gedrink, maar toe kom jag daar 'n Kapenaar by hulle en hy bring 'n paar kaste KWV 5 saam en die feesvure het hoog gebrand. Die ou het sy leeu geskiet, maar soos hulle meer gepiekel geraak het, hoe brawer het hulle ook geword.
Nou vertel die ou dat 'n leeumannetjie mos maar 'n lui bliksem is. Amper soos die Afrikanermans! Dik en ongeskik en wag vir die vrouens om vir hulle kos aan te dra. En as die kos eers daar is, dan het hy die voorreg om die eerste en beste hap te vat. Nou reken hy dat, as jy 'n leeumannetjie kan afkeer met 'n Jeep van sy trop en jy jaag hom ver genoeg, raak die ou vrekmoeg later en terwyl jy hom voor besig hou, dan spring 'n ander ou van agter af en sny sy stert se kwas met 'n mes af! Reken hulle het vir baie jare dié kwaste in die huis gehou as bewys dat 'n man 'n leeumannetjie se stert se kwas kan afsny ... sê egter dat jy genoeg KWV 5 as motivering moet hê!
Die ding het ook 'n snaakse nadraai gehad. Van die wetenskaplikes wat navorsing gedoen het in Etosha, het glo op die trop leeus afgekom waar die leeumannetjies gladde sterte gehad het en hulle het selfs 'n leeukenner uit Pretoria laat kom om te kom kyk, want hulle het dalk met 'n subspesie te doen! Hy reken dit het nogal moed gevat om die grootman van natuurbewaring in Windhoek te bel en hom van die kwas-storie te vertel en sê hy kon die ou nie behoorlik groet nie, want hy het hom aanmekaar gevloek!
NAMIB


