Man, Jelleke, ek het jou laaste brief aan my deeglik deurgelees en alhoewel my kop miskien bietjie te plat is om al jou malkoppie-pittighede (het jy BA geswot?) te verstaan, voel ek erg gefassineer deur jou manlike bediende-fantasie.
Ek wou aanvanklik glo dat jou skynbare kommer oor stofaanpakking werklik te doen het met die deursnee-koerantjoernalis se slonsige lewenstyl, maar gedagtig aan die prag-standaard wat jy altyd met jou briewe handhaaf, begin ek toe mos wonder of die "beroemde voël" en "stof" waarna jy verwys nie eerder 'n Freudiaanse metafoor is nie? (Nie dat ek wil suggereer dat jy soos 'n gefrustreerde oujongnooi klink nie, maar die laaste keer dat ek sulke uitlatings gehoor het, was die spreker iemand vir wie die biologiese staanhorlosie oorverdowend in die agtergrond staan en TIK het.)
Anyway, hoe dit ookal sy - ek het lankal my eie miesies en dis onwaarskynlik dat sy my sou toelaat om jou fantasie 'n werklikheid te laat word. Sy is 'n voorstander van deurlopende skoonmaakaksies, en hoewel ek my nou nie juis doodwerk nie, moet ek maar altyd op bystand bly om af te stof soos en waar die behoefte ontstaan.
Wat jou vernuftige aanhaling uit die argiewe betref - dis niksseggend, want die feit dat iemand in suiwer Afrikaans kan kommunikeer, beteken nie dat hy altyd daarvoor lus het of voel dis noodsaaklik nie. Daar is sekere goed wat eenvoudig net beter in Engels uitgedruk word en as nog 'n snotkopkelner by die Spur vir my vra of ek 'n "biefstuk en skyfies" wil hê, kry ek 'n oorval. Ek is 'n steak en chips-man (medium to rare met monkeygland-sous).
Vriendelike groete
Oom Daan
NS - Melt, dankie dat jy nie weer hierdie skooljuffer se brief ge-brekfis het nie. Jy het geen idee hoe Weetbix smaak as dit in skoon brandewyn geweek word, of hoe dit die res van jou dag opdonner nie. (Ek is 'n Swerwer-aanhanger, fieniesh en klaar!)


