Toe dok T (die heel beste dokter wat nog ooit hierdie aarde bewandel het) met die nuus kom van maagsere en sulke lelike goeters, toe dog ek dis die einde: Geen Napoleon brandewyn of regte Skotse suiwerwater meer nie. G'n laatnag kroegstories verder nie. Dok T beduie toe vir my dat ek maar net die gasgoete met melk moet vervang, en Voila! Wel, dit vat nogal gewoondraak om jou dop met melk te vat, maar as jy dit eers gewoond is dan is dit nie te onaardig nie. Probleem met melk is egter dat die tradisionele Sixpack vinnig besig is om te verdwyn. Og, wel, mens moet opoffer, dan nie?
Eendag, lank lank gelede was die mensdom nie so erg sensitief nie. Nie so broos en breekbaar nie. Nou, ewe skielik sterf miljoene aan derde- en vierde- en vyfdehandse dampe. Hulle noem ons nou "druggies" en ander goete. Sommiges sê ons moor. Ander omies en tantes en bekommerdes wil mens se twak sommer met geweld kom afvat.
Wel, ek wetie en gee in elk geval nie om nie.
Wat wel nie met rokery lekker afgaan nie, is een van Paul De Wet of Johan Malan of Hamilton Russel se beste wit of rooies nie. Of Cheeseman hier anderkant my se beste kase.
Tog, wat is dan nou lekkerder as om in 'n rokerige kroeg in te stap, jou pakkie Menthols en Bic neer te sit en die barman te beduie vir 'n lange met ys? Jy scan vinnig deur die massas en jy bekyk. Eenkant sit 'n ou met 'n lang uitgebrande kooltjie en staar na sy Castle. Hy het sommer baie meer worries as jy. By 'n tafel sit 'n vrolike spul en lag. Manne sit oopbeen en meisies het stywe denims aan. Vroeg in die date stadium. Doer in die hoek sit 'n verliefde paartjie en nonsense uitsort. Jy kan sommer sien hulle wil nie gepla wees nie want mammie beduie sommer hier in die ou se gesig. Bly ver weg daar! Na vyf jaar saam het hulle nou die moed om mekaar lekker gas te gee. Rondom die kroegtoonbank sit-staan die luidrugtiges. Theron wat met almal kamma moeilikheid soek en tog vir almal ken. Gooi sy oog gereeld pad se kant toe en bewaar die "donner" wat aan sy nuwe bakkie vat (asof iemand sou wou). Iewers beduie iemand vir Cliffie om 'n song te sing (please, moenie!).
Hier naby sit 'n jong man en speel Trivia. Jy sien die ou sukkel want hy bly vir antwoorde vra en bly tweerande ingooi. Sy girl sit gemaak belangstellend en toekyk. Damn, man! As ek net die High score kan Beat! "Ek’s nou klaar doll! Kom ons kry net die high score, ok?"
Later as die dop begin trek is mammie en pappie in die hoek se nonsense soort van uitgesort, want hulle ruil spoeg uit. Die meisies met die stywe denims se oge begin dwaal want die manne bly dubbels vat terwyl hulle cocktails moet sluk. En iewers bulder 'n dronkerige man met 'n blou PT-broekie aan dat hy nou vir almal 'n shooter gaan koop. Hy weet hy gaan more spyt wees want shooters is nie goedkoop nie. Pietie by Trivia het klaarblyklik gescore want hy draai nou na die geraas se kant toe. Mammie beduie dat hulle more moet vroeg op maar hy draai tog later haar arm en koop vir haar 'n emmertjie. Die man met die lang kooltjie begin vir jou beduie oor goete wat jy nie veronderstel is om te weet nie. Sy oge hang, maar jy wil nie sy stront ook nog op jou hanne hê nie. Jy beduie vir hom van vergeet en leef vir hier en nou. En hy glo jou maar praat verder. Besigheidskaartjies word geruil en SMS jokes gedeel. "Ek bel jou more oor daardie Bumper, ok?"
Moreoggend lyk almal se oge soos ... in paartyd. Langkool probeer onthou of hy toe wel die kans gevat het met daardie girl wat so lekker voor hom gedans het, die ene met die stywe denim. Triviaman staan by sy draaibank. Theron is, wel, iewers. Pietie in die hoek groet jou vriendelik as jy by ABSA instap. Theron is steeds iewers. Cliffie se stem is hees want hy het vir Neil Diamond probeer namaak. Theron raak langs 'n wildvreemde girl wakker wie se naam hy steeds nie kan onthou nie. Hy probeer onthou of hy met sy bakkie gery het tot hier.
Sommiges kry die aarde se genot uit Earl Grey en Pietie se uitsoektee en ander ladieda Engelse teetjies. Ander hou van Milo met regte egte organiese melk (en hier dog ek alle melk kom uit koeie se spene uit). Sommiges probeer vyftien bessiesoorte in een asemteug herken. Ek hou maar by die basiese goete, baie dankie.
Groete uit Oesterland
oester


