Bokomo-brekfisbrief; 20/02/2010: Klein irritasies

  • 0

Anton se brekfisbrief het my weer laat dink ... en dis nogal party dae moeilik vir hierdie blond ... 🙂 Ons is so eenders en tog so anders. Daar is verseker die gemeenskaplike faktore wat ons almal mateloos irriteer. Om net ‘n paar te noem ... daai taxi wat in die oggend aan die annerkant van die geel streep by jou verby rattle, met 20 pare wit oë (19 van hulle half verskrik, die ander uitdagend) om dan by sy brother net voor jou te kom indruk, duime in die lug ... hy't gewen ... bliksem!

Die bedelaartjie met sy stukkende stink broekie, gemaak mank en vol snot en trane (tot die lig groen word) wat op jou gevoel kom speel, elke dag, op dieselfde plek ... meer lus en verlos hom uit sy vernederende bestaan, en tog ... dalk is hy regtig honger? Jy ry aan, maar iets bly knaag ... en jy gee maar jou R2 vir die volgende karwag wat vir twee minute nie na jou kar gekyk het nie ...

Daai vinnige klein werfetters wat jou kar se voorruit kom bespuit met hul rioolwaterbotteltjies, al bal ek my vuis vir hom, hy spuit jou asof hy wens hy kon dwarsdeur die ruit tot in jou oog spuit (seker hy wil) ... en los jou voorruit vol strepe en jou hart vol nyd. Niks vir hom nie, die vierde karwag het anyway jou laaste R2 gekry!

Ou omies met hoedjies agter trollies of stuurwiele wat vergeet het waar hulle is, wat hulle moet koop en hoekom hulle bestaan. Hulle staan net daar, die hele Pick & Pay gangetjie of vernoude 2010 padwerk-hoofstraat vol, papiertjie onderstebo vasgeknyp in sy bewerige ou hand, geen planne om binnekort vorentoe te beweeg nie ... en jy is te ordentlik, jy wag ... en wag ... f00000000k tog!

Vinnige swart duur motors wat stadig in die "vinnige" baan ry asof die pad, en die wêreld for that matter, net vir sy eie privaatgebruik geopen is. Of daai selfde vinnige swart duur motorkonvooie, blou ligte en al, wat al sirenende by jou verby loei en jou en al jou mede-padgebruikende landsburgers soos miskruiers aan ‘n strontbol aan die kant van die pad laat hang. Hulle noem ek sommer die Fokoffies.

Inkopietoue, waar jy, geduldig (hoe dan anders?) jou beurt afwag en dan is daar iemand voor jou wat met 5 sente betaal, of sy hele jaar se water en ligte rekeninge NOU wil vereffen, of besluit om eers ‘n lang onverstaanbare gesprek met die till-operateur te begin, of jy het net nie opgelet dat die persoon voor jou daai angsbenewende "Closed, please use next till" bordjie agterop sy trollie gehad het nie, of die nerfie twee spasies voor jou het eintlik plek gehou vir iemand wat kom shopping doen het vir ‘n drie maande lange oorlewingskamp, of jy kom agter jy het ‘n lewensbelangrike item vergee t... en moet uit die tou uit daarvoor, en les bes, jy koop ‘n item wat jy nou nie wil hê almal moet sien nie (kondome of Lil-lets of so ietsie) en die verdomde goed het nie ‘n prys op nie, en die blerrie girlkie hou die item hoog in die lug en skree op die top van haar stem, "price pleeease!!!" Damn!!!

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top