Bokomo-brekfisbrief; 20/02/09: Die ou-ou tyding op CD

  • 1

 

 

Die Cantamus Corde-koor het pas ʼn CD met die bekendste ou Halleluja-liedere uitgegee - in lieflike verwerkings deur dr Niel van der Watt, musiekonderwyser by Pretoria Boys' High. Die koorleier is die begaafde Renette Bouwer, wat weet hoe om haar koor soos engele te laat sing.

Die koor sing meestal musiek met ʼn religieuse inslag (bv Bach se Johannes-passie). Einde laasjaar hou hulle toe mos konsert in die kapel van Nazareth House in Brooklyn. Die lokbrief sê vooraf: Mendelsohn en Hallelujas. Ek en ʼn vriendin gaan sit heel argeloos in die voorste gestoeltes. Min weet ons.

Toe die koor wegval met "Jesus roep my vir ʼn Sonstraal (om elke dag te skyn)", pak die uwe omtrent op. Dié liedjie het ek ʼn leeftyd gelede met oortuiging in die Sondagskool gesing; in die saaltjie in Sunnyside, lank reeds gesloop, met sy kraakvloer en opvoustoele van hout en kateder met die rooi en goud kleedjie: God is Liefde.

Nou sing die koorlede dit stralend, asof nuut. Kwalik het ons tot verhaal gekom, of ʼn meesleurende en ritmiese "Bring my die ou, ou tyding" volg.

Daarna slaat die koor ons met "Toe moeders na Jesus hul kindertjies gebring het, het sy dissipels hul belet: gaan weg van die Heer ..." Vet. Om van "Jesus min my, salig lot ..." nie te praat nie. Toe hulle insit met: "Wat ʼn vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan", is ek ses jaar oud en my pa staan hier langs my.

Nog is het einde niet. "As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels, al die skones, al die wittes, vir Jesus se kroon" - en skielik sien ek my ou Sondagskoolmaats helder hier voor my, asof ons nog almal tien jaar oud en in standerd drie is: Elize, Elrina, Tersia, Agnes, Christine, Elizabeth.

Agterna koop ek die CD en luister dag en nag daarna. Dit dryf my kind teen die mure uit. Dit kan my nie skeel nie.

Ek sit glad op kantoor en neurie: "Tel jou seëninge, tel hul een vir een."

Ek meen die koor het ʼn webwerf, so mens kan seker die CD vandaar bestel.

Marietjie

  • 1

Kommentaar

  • Cornelia Swanepoel

    Waar kan mens die CD bestel? Ek het dit iewers gehoor en MOET dit in die hande kry...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top