só onder baasskap, slawerny, apartheid,
só onder die ferm bestuur van kolonis,
só onder segregasie, afsonderlikheid,
groei ek toe, van tong tot tong,
onder baas se patri-oerdrang uit,
onder ounooi se matri-aanvaarding in,
onder wetenskaplikes se meet en pas,
struktuurgeweldslaboratoriumproefkonyn
g’n keer aan assimilasie, integrasie,
groei my woordeskat, etimologies,
soos ’n suiwer kreool, dinamies,
uit die kombuis uit tot in gebedsplek,
van eerste asem tot heel laaste,
elke woord ’n aanduiding, teken,
bewys, getuienis, per definisie,
al sou sommige sprekers hul selwers,
Millennium Drie, suidste Suiderland,
ag as suiwertaliges, raseg, onbevlek,
as hul Heer se Herrenvolk,
wou beskou, ‘t hul g’n idee,
hoe vry, sonder grense,
is’k, vaderlands moedertaal,
my kreoolsheid deur hul voorouers,
hul drifte, drange, ketoolsheid,
deur hul outo-ekspansionisme,
voorskrifte van hul nasionalisme,
gesmee, gevorm, letterlik,
in woordeboeke as “Afrikaans”,
heeltemal anders as Nederduits,
(nie naastenby so preuts en vroom)
opgeteken as hibried, “bastaard”,
dienskneg, -maagd se eg-eie kode,
uiteraard nog nie goed geskat na waard’
Jacobus Faasen


