ontsluit geheime van jou hardeskyf,
maak wakker jou kontak-apparaat,
loop lekker luilekker af in kuberstraat,
met ʼn tiekiedraai-heupswaai innie lyf
vertaal jou gedagtes om in taal,
kyk hoe sluit woorde, frases, aan,
aanmekaar, in stringe, sinne,
reëls, hoe jy ook al daarna kyk
dis tyd vir “Duiwelspiek”, berg en buurt,
ikoon van onkunde, op oostekant van ons Tafel,
Vader Duiwel, verduiwels bó ons Moederstad,
maak sy oorheersing platkoppe verder plat
saamstaan, ex unitate, oplossing nommer een,
of verskaf asseblief dan ʼn beter alternatief,
kanala, Allah, inshAllah, Jehova, Jahwe,
Rastafari, kinders, kleinkinders van Abraham
bly ons afhanklik, al is vele superskatryk,
maak ons stilweg staat op Voorskrif, Preskripsie,
van Skepper, Skeppingswet, van dissipels, profete,
van mense wat ook heimlik hunker na hul Gewete
tyd vir saam dans, lofprysend, dankbaar,
langs vure vreugde van oorwinning vier,
Millennium Drie Openbaring-tyd is hier,
selfs fiksstes vannie fikses nodig U, Agbaar,
as dit kom by U Berekening van skade,
by toedeel van U Liefde se Genade,
by herverdeel van U Geregtigheid
almal verdien, opreg, hartstogtelik,
verlangend na so iets te kan uitsien,
Waarheid as Wapenrusting vóór te hou,
in Stryd op Aard’, aan net Een getrou
Jacobus Faasen


