Ons sê maar Pietertjie, nè?
Pietertjie het hier aangekom met vroutjie en kind in die doeke. Vroutjie met plakkies wat skeef uitgetrap was van baie loop. Kind met doeke wat mens kon sien jare laas bleikmiddel gesien het. Maar ek moet sê, al was die doeke nie wit nie was hulle tog skoon. Want hulle het geken van swaarkry maar wou nie kom bedel nie, "Het jy nie vir my 'n werk nie, meneer?"
Ek het hom maar beduie na Peter Hopkins toe wat ek vermoed het 'n handlanger nodig gehad het. En Peter het hom maar ingevat en vir die kind Cuddlers gekoop en vir die vrou Pep toe gevat. Want dis jou naaste en dit kan netsowel 'n engel wees wat voor jou deur staan. Buitendien, as iemand se vlerk af is moet jy hom ten minste weer aan die vlieg kry. Dalk draai hy oor jou voor hy verder vlieg.
Pietertjie het egter nie net gebly nie maar later sommer lekker gebly. Veral snags. As mammie slaap. Want lekker is mos baie lekker as jy begin agterkom dat daar meer lekker annerkant die draad is. Tot mammie vir Pietertjie uitvang. En kind en doeke en nuwe rokkies pak en die pad vat lat sy vandag nog weg is. Pietertjie moes egter lig vry en versigtig trap, want daai Lelie was 'n ander man se lelie en sy was nie, mmmmmm, so wit soos Pietertjie nie. Want al is dit die nuwe eeu kyk die mense soms skeef as wit en, mmmmm, nie-so-wit openlik staan en vry. En dan is daar nog die Lelie se man ook wat bekend was dat hy 'n Nommer is. Ek wonder dikwels hoekom mense vir hulself altyd groter moeilikheid maak as hulle klaar in kakstraat is?
Ons kry die oproep om te loop kyk, daar's moeilikheid by die tennisbane en dit lyk asof Morné sal moet kom want die bloed lê oral. Jip. Daai Lelie kon haarself maar net nie inhou nie. En nee, dit was nie Pietertjie nie. Anner man. Ek kannie onthou hoeveel keer hy gelem was nie, maar Morné het later beduie dat die man wat die steekwerk gedoen het baie kwaad moes wees, want hy het opgehou tel by, mmmmm, ek kannie onthou hoeveel messteke nie. Ta word gearresteer en hy loop die pad van die howe en ondersoeke en hy kry uiteindelik baadjie, of so het ons gedink. Moord met voorbedagte rade. Erge moord, soos hulle sê. 25 jaar.
Pietertjie het nie eintlik vir die vonnis gewag om te loop aanklop nie. Die saak het nog nie eens klaar geloop nie of Pietertjie het die ander man se kooi syne gemaak en kos vir die annerman se kind gekoop. Peter Hopkins was baie filosofies oor die besigheid en het maar die man 'n verhoging gegee, en later, toe hy Ingeland toe is maar die besigheid en die kwaste en grawe en kruiwaens en die landrover gegee vir Pietertjie om mee aan te gaan. Want Peter Hopkins het ook maar geken van weer onder begin.
Pietertjie het goed afgeskop, want mens het maar die klein kontrakte sy kant toe laat gaan want hy het 'n besige vroutjie en 'n vreemde man se kind om na om te sien. Tot die dag wat hy hier opdaag om 'n paar grawe en kruiwaens en gereedskap in die pan te sit "want die werk is maar stadig, ek gaan eerder paintwerk doen". Later sien ek hy ry nou fiets en ek vra oor Hopkins se Landy en hy beduie dat 'n fiets se onderhoud nie so duur is nie. Maak sin, want 'n Landrover is mos 'n Ingelsman en die goed is duur. Duurder as 'n vrou om te onderhou. Pleks Peter het vir hom 'n Hilux gegee ...
Ek kry hom later op pad met 'n gaskan en ek vra uit, want hulle het mos krag? Nee, hy wil die ding gaan ingee, en dis toe ekke lont ruik, want 'n gaskan mag jy nie regtig koop nie, want die goed word losgesny van die vakansiehuise af en dan het 'n ander man skade. Kom toe uit die man loop al lank en vakansiehuise se pype afsny en gaskanne verkoop. Want daai Lelie van hom is duur op onderhoud. Sy het gewoond geraak om hoog te sit in die Landy en is nie tevrede om te daal nie. Tot André kom vra oor Pietertjie en hy moet antwoord. In die hof. Want mens vattie wat nie joune is nie.
En, I shit you not! Soos Pietertjie gevonnis word vir sy gesteelde pype en krane en gaskanne, so word sy Lelie se man vrygelaat op vroeë parool of wat hulle dit ookal noem. Ses of wat jaar gesit vir moord ... weliswaar 'n rondfokker maar die pa van twee kinders gewees. Ons het nogal gewonder as die twee saam moes bandiet wat die uiteinde sou wees. Lelie? Ek sien die twee het redelik vrede gemaak want hulle loop maar weer saam. Met die ongenadige man wat niemand by sy vroutjie duld nie en sy tyd as bandiet as bewys het. Hy doen maar weer loodgieterswerk soos sy gewoonte was. Ek vra hom Saterdag oor die aanbouing by ... se huis en die loodgieterswerk en of hy sal subkontrak. "Ek sal kom, ek't 'n vrou en kind om na om te sien ..."
Ek hoor by die aanklaer dat Pietertjie 10 jaar gekry het. Met goeie gedrag is hy dalk oor drie jaar buite ...
oester


