Vanoggend, toe 'n goeie vriendin laat weet sy moet vanmiddag vir 'n ondersoek na haar ginekoloog gaan, onthou ek weer 'n ware storie wat in een van die vrouetydskrifte verskyn het.
Dié dame het 'n soortgelyke afspraak gehad, maar moes heelwat inkopies voor die tyd doen. Sy gryp toe 'n plastieksakkie, sit haar waslappie daarin en voordat sy die dokter se spreekkamer betree, vee sy gou sekere plekkies van haar anatomie mooi skoon.
Nadat die ginekoloog haar ondersoek het, verseker hy haar dat alles wel is, maar dat sy regtig nie sóveel moeite hoef te gedoen het nie. Sy was stomgeslaan oor hierdie duistere woorde van hom, totdat sy tuisgekom het. Haar dogter het haar ingewag en wou weet of sy dalk die plastieksakkie met die blinkertjies vir die konsert êrens gesien het ...
Ellen B 🙂


