Ellen voeg gevoelskleur en geur by Etienne van Heerden se toespraak. Deur haar belewenis van sy pa se suster so doodgewoon en sonder aanstellerigheid met ons te deel, gee sy as’t ware ʼn ‘geloofsbrief’ vir Etienne. Ons wat hier lees, meeste van ons relatiewe én werklike vreemdelinge vir mekaar, kry die groen lig dat Etienne ʼn betroubare getuie is. Ons word dan ook meer vir mekaar as net vreemdelinge. Ons is nou al amper vriende - minstens darem kennisse - van die twee vertellers.
Hulle deel hulle ervarings met ons op so ʼn manier dat dit nie anders kan as om ons lewens te verryk nie.
En hoe is dit dan moontlik dat ons so saamgebind word deur twee stukke skryfwerk - in Etienne se geval natuurlik in ‘praatwerk’ omgesit toe hy die prys ontvang?
Dis die Taal.
Ons Afrikaans. Dis ons hartstog en die kollageen wat maak dat ons kultuurgeraamte darem meer as net vel en been is.
Normaalweg word ek nie maklik opgesweep om te verklaar dat ek in die strate sal toyi-toyi nie. Tog is dit moontlik. Destyds wou hulle Kerkplein in Pretoria se Wes-fasade met ʼn stootskraper omstoot – dit was voor die tyd toe mense in die strate gedans het om hulle misnoeë te kenne te gee. Toe hulle my werf vir die protesaksie, het ek gesluk en gesê: “Ek is daar.” Die Vrouefederasie het vir Sybrand van Niekerk laat weet – “Kom stoot jy maar. Ons gaan lê.”
Onlangs, toe die voorste politieke party se aweregse faksie, wat vir te lank in Pretoria die septer geswaai het, geliefde straatname brutaal en sonder respek wou verander, was Steve Hofmeyr ʼn man wat kon voor loop en ek sou hom volg. Gelukkig het Kallie Kriel oorgevat by die derde been en met heelwat meer takt en ʼn koeler kop die stokkie oor die wenstreep gedra.
Ek kan breëbors verklaar dat ek Etienne heelhartig ondersteun dat Afrikaans hulp nodig het om ʼn wetenskapstaal te bly. Dalk sal dit kos dat ek my weer bereid moet verklaar om te lê, te loop, of te dans. Ek verkies die lêery – was nog nooit iemand vir sweet in die son nie – seker maar my Sweedse bloed.
Etienne, jy kan maar net praat. Ek sal vlieg ook as dit moet.
Beste Groete,
Willa


