Bokomo-brekfisbrief; 19/10/08: Ode aan die Ruhrpott ...

  • 0

 

 

Die Ruhrpott is die hartland van die staalindustrie waardeur die skilderagtige Ruhrrivier vloei. Daar is talle klein meertjies in sy loop waar seiljagte en roeibote boer. Rigting Krefeld is daar ʼn pragtige Jugendstil-swembad van ouds wat omskep is in ʼn moderne museum. Talle stilgelegde steenkoolskagte is omskep in edel-restaurante, of kunsmuseums, of disko's. Hier word alles recycle - en nie net glas of papier nie!

Kortom, die indruk wat in die buiteland bestaan dat die Ruhrgebiet swart is van die steenkoolroet, is ʼn mite wat tot die sestigerjare hoort. Vandag is die konglomeraat van 53 stede wat naatloos ineenvloei een van die wêreld se skoonste en groenste - sekerlik die mees ekologiese - megastede, waar elf miljoen mense daagliks krioel. Daar is meer motors in die Pott as op die hele kontinent van Afrika.

Ten spyte van Bayreuth, die operas van Berlyn en elders, oortref die Pott Internationaal die ander. Jaar na jaar wen die Pott die groot prys van UNESCO as die gebied ter wêreld met die digste en uitmuntendste kultuurlewe ... of dit nou die vyf operahuise is, briljante kabaret, uitstekende teater (dink aan maar Recklinghausen se eksperimentele Festspiele elke jaar!) of Herne se "Tage alter Musiek". Lg vind elke jaar in November plaas en word direk uitgesaai deur WDR3. Vanjaar is Yeree Suh, die Elbipolis-Barokorkes uit Hamburg, die Ensemble daedalus en Roberta Festa onder meer op die musikale spyskaart. Die kunstenaars kom van dwarsoor die wêreld en dis elke jaar ʼn groot hoogtepunt van die pre-barok musiek.

Die mense se begeestering vir kos en sokker is egter net so aansteeklik. Bochum se Bermuda Driehoek is ʼn tipiese kulinêre myl (of in dié geval driehoek) waar mens vasval en bly hang tot in die vroeë oggendure.

Een groot voordeel van die Ruhrpott is dat dit nie vertrap word deur toeriste nie. Hier kom mens ook beter reg met Pools as toeristetaal eerder as Engels, omdat die Pole tradisioneel hier op die myne kom werk het. Op die varsproduktemarkte kry mens dus feitlik enige Poolse spesialiteit. As mens ʼn telefoonboek oopslaan, is die helfte van die vanne van Poolse afkoms. Dis ook die rede waarom daar soveel Duitse sokkerspelers is met Poolse vanne.

Hier in die direkte omgewing is vyf groot sokkerklubs. Herbert Grönemeyer stam hier uit die hartland van die Ruhrpott en dis ʼn absolute riller as 65.000 sokker fans opstaan en sy Bochum-lied sing in ʼn stadion. Luister net na sy kultus-song, "Bochum", om ʼn idee te kry. (Dit word bochoem en nie bôggom uitgepreek.)

Die liriek is pragtig:

diep in die weste
waar die son verstof
is dit beter,
veel beter as wat mens glo
diep in die weste

jy (Bochum) is geen skoonheid
van werk heel grys
jy hou van jou sonder make-up
jy't ʼn eerlike vel
ongelukkig totaal verbou
maar dis juis jou sjarme

jou polsslag is uit staal
mens hoor dit luid in die nag
jy is eenvoudig te beskeie
jou gemynde goud (bedoelende swart goud, steenkool)
het ons weer laat opstaan (na die oorlog)
jy, blom van die Revier (so noem mens die gebied)

Bochum, ek kom uit jou
Bochum, my hart hang aan jou!
geluk opwaarts, Bochum!

jy is geen wêreldstad
op jou Koningsallee*
vind geen modeparades plaas
hier, waar die hart nog tel,
en nie groot geld nie,
wie wil dan in Düsseldorf bly?

Bochum .... (refrein)

jy is die hemelbed vir dowes
en permanent op koks (koks = of steenkool of drugs)
het ʼn tuintjie in die Schrebergarten*
maak met ʼn dubbel dribbel
elke teenstaander nat*
jy en jou vfl*

Bochum ... (refrein)

Verklarings:

Koningsallee - daar is ʼn allee met hierdie naam in sowel Bochum as in Düsseldorf, die ene in Düsseldorf is vreeslik fancy en huisves al die groot modehuise, Chanel en YSL inkluis. As jy daar wil gaan shop, moet daar taamlike groot note in jou beursie wees. Die ryk Arabiere het Düsseldorf ontdek en boek sommer hele hotels oor die somermaande ... maar by Bastians kan mens die heerlikste brode koop en heel bekostigbaar ontbyt eet en ure lank tydskrifte lees en cappuccino drink.

Schrebergarten - dis iets wat mens net in Duitsland kry. Elke stad het groen sones waar mense sulke mini-tuintjies het en self groente kweek. Gewoonlik het hulle sulke mini-huisies daarop en die tuintjies is pragtig. Dis ʼn stukkie aarde vir mense wat andersins in die lig bly en nie die voorreg het om ʼn regte tuin te hê nie.

Vfl - Verein für Leisbesübungen (vereniging vir liggaamsoefeninge) - klink bietjie weird, maar dis die naam van Bochum se sokker klub.

Om ʼn teenstaander nat te maak verwys na die groot hoeveelhede bier wat by "Grillparties" (ʼn braai) gedrink word.

Wanneer begin die liedjieskrywers in SA iets fabriseer vir die Wêreldbeker in 2010? Laat weet bietjie of dinge al aan die roer is ... Hoe lyk dit?

Krautie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top